Dié honde was van vier diere wat uit ’n Saldanhabaaier se sorg verwyder is.


Moenie stilbly nie en laat wetstoepassers weet as iets fout is.

Net soos in die geval waar iemand seergemaak of mishandel word en deur die polisie en maatskaplike dienste bygestaan word, sien die Swartland- en Weskus-dierebeskermingsvereniging (DBV) om na diere wat mishandel word.

Die plaaslike DBV het onlangs onthul hy het vier diere in Saldanha afgevat nadat bevind is hulle het in haglike toestande geleef.

Colette Mang, voorsitter van die plaaslike DBV, sê beamptes het verlede Donderdag twee honde en twee katjies by ’n huis in Saldanha verwyder ná herhaaldelike besoeke nadat die organisasie aanvanklik gekontak is oor die omstandighede waarin die diere hulself bevind.

’n Beampte, Jameson October, het vroeër die maand ’n waarskuwing aan die troeteldier-eienaar uitgereik nadat die diere verwaarloos aangetref is. October het gesien die diere leef in onhigiëniese toestande met die honde se ontlasting wat in die huis gevind is.

Ten spyte van die waarskuwing het die omstandighede by die woning nie verbeter toe October ’n week later ’n opvolgbesoek gedoen het nie. “Terug by die toneel was October moedeloos om te vind die diere was in selfs ’n erger toestand. Ten spyte van vorige voorskrifte het die eienaar nie die toestande verbeter nie, en die diere se lyding het voortgeduur. Dit is ’n herinnering aan die uitdagings wat ons in die gesig staar in die bekamping van verwaarlosing en mishandeling,” het Mang gesê.

October is die volgende dag met ’n lasbrief terug na die Saldanha-woning.

Volgens Mang het die eienaar gebieg hulle kon nie vir die diere die nodige sorg gee nie en het ingestem dat die diere verwyder word.

“Hierdie storie is een van die vele wat daagliks by die DBV ontvou. Dit is ’n bewys van ons onwrikbare toewyding tot die beskerming van die stemloses en om vir hul regte op te staan.”

Mang het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om te help op enige manier wat hulle kan.. Vir inligting oor die Swartland- en Weskus-DBV se werk of om ’n viervoetige vriend aan te neem, besoek hul Facebookblad.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article