Die Velddrif-krieketklub het die tweede agtereenvolgende jaar ’n ses-aan-’n-kant-kriekettoernooi by Smitpark aangebied.
Die agt spanne wat aan die toernooi in Velddrif deelgeneem het, het van so ver as Kaapstad, Darling en Riebeek-wes gereis. Volgens die klub wil hulle graag die toernooi tot ’n hoogtepunt op die krieket-kalender uitbrei en hoop om dit ’n jaarlikse instelling te maak.
Darling se manne het uiteindelik in die 2022-toernooi koning gekraai. Die Lunatics was in tweede plek met Riebeeck Warriors wat in die derde plek geëindig het.
Die speler van die toernooi was Darling se Jevon Cloete.
Riebeeck Warriors spog met die spelers wat die meeste paaltjies geneem en meeste lopies aangeteken het.
Donovan Cupido se balle kon nie gekeer word nie terwyl Arden Neethling die meeste lopies aangeteken het.
Die Velddrif-krieketklub het almal wat ’n bydrae tot die toernooi gelewer het, bedank vir hul rol om die geleentheid ’n sukses te maak, veral die plaaslike Vredenburg-kantoor van die departement van kultuursake en sport, Laaiplek SuperSpar, Zeevas Cleaning and Supplies en Tawede, sowel as Defurco Steel Processing in Saldanha, wat die klub se sweetpakke geborg het.





