Darling se netbalspan het die verdedigende kampioen, Vipers, in die eindstryd getroef.Foto: Murphy Roberts


Die 23ste Darling-7’s-toernooi het Saterdag in bloedige hitte plaasgevind en ook ’n nuwe kampioen opgelewer.

Volgens die toernooidirekteur, Denzil Andries, het baie rugbyspanne weens die Boland-seisoen, wat vroeër begin, onttrek om eerder op die 15-man-kode te fokus.

Volgens Andries het die verdedigende kampioen, Mamre, ook om dié rede onttrek. Hy sê voorts 26 spanne het voor die Boland-aankondiging hul deelname bevestig, maar die toernooi het helaas met 16 spanne se deelname plaasgevind.

St. George’s, wat as die vroeë gunsteling uitgedraf het, het nie teleurgestel nie en Strand United 19-5 in die eindstryd geklop. Die toernooi is deur die Kaapse spanne oorheers wat ook die hitte die beste verwerk het.

Strand RFC het die gasheer in die Bowl-eindstryd 22-19 geklop terwyl Belhar vir Hamlets 2 in die plaatfinaal 31-10 geklop het. Die twee plaaslike spanne wat die beste gevaar het – Hamlets van Mamre en Young Hearts van Pella – kon egter nie die uitklophou plant toe dit die nodigste was nie en het albei in die beker-halfeindstryd teen die finaliste vasgeval.

Hamlets het die beste kans van die twee spanne gehad om die eindronde te haal, maar die hitte het sy tol geëis en Hamlets het 12-19 teen die kampioen vasgeval. Strand United het op sy beurt geen genade getoon teen die span van die Grafkelder nie en die halfeindronde maklik 35-0 gewen.

Darling se vroue-netbalspan het die verdedigende kampioen, Vipers van Atlantis, in die eindstryd getroef en hul eerste titel gewen. Vipers het egter met die gemengdespantitel weggestap.

Volgens Andries het hulle ook die eerste vroue-7’s-spanne in die toernooi gehad en Elsies het met die louere weggestap.

Andries sê ook hulle sal vanjaar se terugslae onthou en verbeter vir die volgende toernooi. Hy sê vrouerugby sal voortaan deel van die toernooi bly.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article