Te midde van soveel uitdagings in ons huidige onderwysstelsel, het ek nog steeds hoop vir dit wat die toekoms inhou. Vir ons kinders, ons opvoeders, ons gemeenskappe en die beroep wat so ’n edele professie is.

Ek sou dalk ’n paar maande gelede ’n ander deuntjie gesing het saam met al die doemprofete wat alles en almal tot niet verklaar in die land van ons. Ja, laat ons realisties wees, daar is ongelooflik baie uitdagings en ons skole is maar een daarvan. Die Covid-19-pandemie het op soveel vlakke die bestaande uitdagings tot nog groter vlakke laat eskaleer. Een hiervan is die uitvalsyfer van leerders op laer- sowel as hoërskoolvlak. My ope vraag en eerlike wonder hieroor is of daar ten minste al ’n plan is om hierdie kinders weer terug te kry in ons skoolstelsel.

Met die rotasiestelsel vir klasbywoning (weens die pandemie) kan ’n mens verstaan dat van hierdie leerders bloot net die lus vir en ywer vir klasloop kon verloor het. Dit bring op sy beurt die rol en verantwoordelikheid van die ouer skerp na vore om te verseker dat die kind wel skoolgaan. Indien nie die geval nie, gaan ons sit met ’n generasie van kinders wat ongeletterd die samelewing betree en wie se kanse om ’n sinvolle bydrae te lewer bitter gering is. Die goeie nuus is egter dat ons redelik onlangs verneem het dat ons skole darem nou weer volstoom kan voortgaan met hul broodnodige taak – om aan ons kinders die onderrig te verskaf wat hulle verdien. Onderrig wat hul kanse op sukses in die lewe kan verseker.

Die mate van kwaliteit wat hiermee gepaard gaan is debatteerbaar. Eenvoudige antwoorde is daar ook nie vir die hordes uitdagings wat die onderwysstelsel in die gesig staar nie. Een daarvan is die enorme addisionele administratiewe take wat op die skouers van leerkragte geplaas word. Voeg hierby die ratio van leerders per klas, die gebrek aan voldoende hulpbronne wat die kwaliteit van onderrig in die klaskamer kan verbeter asook die sosiale euwels wat in en rondom party skole voorkom en daartoe lei dat die opvoedingstaak onder geweldig moeilike omstandighede plaasvind.

En dis juis hier waar my woorde begin min raak en my respek vir elke opvoeder net meer word vir die deursettingsvermoë om elke dag sy of haar plek vol te staan in die klaskamer. Dit wil gedoen wees! Om hierdie einste rede was dit vir my so ’n groot voorreg om onlangs as gasspreker by ’n meriete-aand van ’n Bolandse skool op te tree.

Dis een van die skole wat bogenoemde uitdagings op ’n daaglikse basis trotseer en nog steeds bewys het dat harde werk uiteindelik sukses oplewer. Hierdie skool kon spog met ’n matriekslaagsyfer wat hulle onder die top-tien skole in die Boland laat eindig het.

My gesprek met die prinsipaal na die spoggeleentheid het my met ’n nuwe stuk waardering en respek na die professie laat kyk. Ek het die voorreg gehad om met ’n leier in gesprek te tree wat die hartklop van die gemeenskap verstaan. Iemand wat vertroue inboesem by sy personeelkorps, die ouergemeenskap sowel as leerders en wat uitdagings in geleenthede omskep het.

Dis sy meedeling van die naweke wat matriek leerders en opvoeders opgeoffer het om voor te berei, sosiale media-platforms en groepe wat ingespan is om die ekstra hulp en bystand te verleen aan die leerders wat my baie beïndruk het. En dit te midde van die moeilikste omstandighede wat die pandemie ingehou het.

Dis egter ook my interaksie met hierdie prinsipaal se wenspan van opvoeders wat my nuwe hoop gegee het vir ons toekoms. Ek was aangenaam verras met die samestelling van die opvoederkorps. Jong leerkragte wat met erns en ’n toegewydheid hul taak verrig. Hiervan getuig die skool se matriekuitslae. Meer nog is die meerderheid van hierdie leerkragte jong vroue. Een van hulle het my juis geweldig beïndruk deur die spontane wyse waarop sy een van die leerders geluk gewens het met sy prestasie. En glo my, niks van daardie gelukwensing was geforseerd van aard nie; dit was opreg en met baie omgee.

Rondom hierdie jong opvoederkorps was daar genoeg teenwoordigheid van kollegas met jare se ondervinding in die onderwys. Hulle dien as die veilige buffers met die nodige mentorskap en is die gesoute steunpilare wat die skool tradisie(s), etos en leuse aan die jonger geslag demonstreer. Dit beskou ek as een van die boustene van ’n wenkombinasie vir die volhoubare en voortgesette lewering van kwaliteitonderrig by ’n skool.

Die trotse ouers van trotse leerders het die aand se verrigtinge verder mooi ingekleur. Elke ouer wil sy of haar kind deel sien van ’n wenspan. Hierdie skool se prinsipaal kon dit regkry om sy ouers te betrek by die skoolaktiwiteite en kon dit regkry om die ondersteuning van die meeste ouers te wen.

Altyd ’n maklike taak? Beslis nie, maar hier kon ek sien hoe die vertroue en wenkultuur wat die skool uitstraal die gewenste resultate kon lewer!

“Werk lewer sukses” – ’n leuse wat inspireer. Met pragstories soos hierdie het ek hoop vir ons skole, ons opvoeders, leerders en gemeenskappe. Doen so voort!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article