“Ons het genoeg van Kaapstad gehad – vuil lug; motorlawaai; verkeersknope . . . te veel om op te noem. Ons wil Weskussers word.

Die soektog na ’n geskikte woonerf eindig in Britanniabaai. ’n Nuwe woonhuis moet gebou word. Die een in die stad word in die mark geplaas.

Die soeke na ’n argitek begin. Deur bestiering kies ons Heini van Niekerk. Ons kom met eie planne vorendag van wat ons wil hê. Hy luister bedaard en gun ons vrye teuels. Hiermee vind ons gou uit ons oorskry ons bou-begroting by verre. Ons onkunde wys duidelik. Die planne verander weer. Hy luister met groot kalmte en geduld na ons en wil ons steeds toelaat om met ’n eie ontwerp na vore te kom.

Ons besoek hom weer. Baie taktvol en diplomaties dra hy oor dat hy ons begeertes sien, maar dat professionele aandag by die afronding van ons voorstellings kort. Hy ruim tyd in om met ons daaroor te gesels. Sy weldeurdagte aanbevelings word aanvaar. Die planne word finaliseer.

Maar hy stop nie hier nie. Nee, hy stap die ekstra myl; eintlik duisend myl. Ons kort ingenieurstekeninge. Hy reël daarvoor.

Indiening van die planne by die munisipaliteit volg. Nog ’n duisend myl stap hy saam met ons. Hy doen dit vir ons.

Eskom se goedkeuring word hierby betrek. Hieroor hoef ons niks te sê nie. Dis ’n maande lange proses. Ook hiermee is hy behulpsaam. Weer eens stap hy ’n duisend myl saam met ons.

Eindelik word alles gefinaliseer en die planne goedgekeur.

Ons kyk terug, diep bewus daarvan dat ons nooit, maar nooit, op ons eie sou regkom nie.

Heini, ons opregte dank aan jou. Woorde kan dit nie omskryf nie. Jou puik professionele diens en geduldige, taktvolle leiding het ons eeue se gesukkel en tyd gespaar.

Ons kan jou met die grootste vrymoedigheid en gemoedsrus aanbeveel by enigeen wat na ’n argitek soek wat uitstekende diens lewer en resultate tot gevolg het.

Ons wens jou en jou onderneming die beste toe en sal jou ewig dankbaar bly vir al jou hulp en bystand.

Namens ons almal: nogmaals baie, baie dankie!


Dries, Gusta, Annette en Bijon de Kock,

BRITTANIABAAI

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article