’n Geliefde visserman van Velddrif, wat beskryf word as iemand “met ’n sagte hart”, is Dinsdag (4 April) in die vroeë oggendure op die visserskuit waarop hy gewerk het, aan sy hart dood.
Danie van Dyk (59), beter bekend as “Danie Knopbos”, is ná skool weermag toe waarna hy as brandweerman by Portnet in Saldanha gewerk het. Daarna, in 1998, het hy as visserman begin werk, eers op die Doreen en toe die Vegkop.
Hy het sedertdien by Amawandle, Laaiplek, as dekman en kok op die Towerkop-visserskuit gewerk.
Volgens sy oudste dogter, Helouise Minnie, wat in Kuilsrivier woon, was sy dood ’n groot skok, maar sy sê hy sukkel al die afgelope drie jaar met hartprobleme.
Sy is ook hartseer dat hy sy sestigste verjaarsdag én sy en haar ma, Tiesa, se veertigste huweliksherdenking in Mei misloop.
Danie en Tiesa was vriende op skool en is in 1983 getroud.
Van Dyk se bynaam, Knopbos, kom al met hom saam vandat hy vyf jaar oud was en op ’n mistige dag in Dwarskersbos, waar hy grootgeword het, vir drie dae weggeraak het. Volgens Minnie het die hele dorp na hom gesoek. Die skool het selfs gesluit om te help, en die lugmag het ’n helikopter gestuur. Die vyfjarige is later onder ’n knopbos gekry, vandaar die bynaam.
Minnie beskryf haar pa as iemand met ’n baie sagte hart, wat hom altyd oor “afvlerkhoendertjies” bekommer het. “Hy het graag gehelp waar hy kon en sou hom soms self te kort doen om ander by te staan.”
Sy onthou ook haar pa was altyd met ’n snaakse sêdingetjie gereed en het bitter min kwaad geword.
“Sy huis het altyd vir almal oopgestaan.”
Tiesa onthou hoe maklik hy geskrik het, en almal in die dorp was vreeslik lief daarvoor om hom skrik te maak as hulle hom iewers raakloop, want as hy so geskrik het, het hy maklik ’n vloekwoordjie laat val.
Van Dyk laat benewens sy vrou en oudste dogter nog ’n dogter, Marisca “Lossie” van Dyk, ’n aangenome seun, Juan “Boeta”, en ’n kleindogter, Lizé Minnie, agter. Hy het ook ’n broer, Jacques Tolken, en twee susters, Jacolene Marais en Elmarie Tolken.
’n Datum vir Van Dyk se begrafnis was nog nie teen druktyd beskikbaar nie, en daar is steeds gewag vir meer besonderhede oor die voorval.





