Baie van ons het waarskynlik iewers gedurende ons skoolloopbaan ’n rapport gekry waarin ’n onderwyser geskryf het dat ons baie meer potensiaal het as wat ons huidige prestasies weerspieël.
Of dit kan gebeur dat ’n mens iets ontdek waarin jy besonder talentvol is sonder dat jy dit besef het.
Toe ek onlangs lees dat die legendariese ultramarathonatleet Mavis Hutchinson, wat eers op 37 aan atletiek begin deelneem het, oorlede is, het dit my onwillekeurig laat dink oor die latente potensiaal waaroor baie van ons beskik, maar dit dikwels nooit ontgin nie.
Karen Botha (néé Kruger) was op skool ’n uitstaande naelloop- en hekkiesatleet, en van haar rekords in hekkie-items het vir jare bly staan. Een jaar het sy egter op die dag van ’n skoleatletiekbyeenkoms verkoue gehad en besluit om eerder aan verspring, waarvoor sy nie geoefen het nie, as aan die 200 m deel te neem.
Sy wen toe die verspring met ’n sprong van 6,11 m, wat hulle agterna uitgevind het ’n Suid-Afrikaanse rekord was. Dit wil sê haar potensiaal as verspringer is bloot toevallig ontdek. Dit het egter vir haar groot geleenthede ontsluit.
Ná skool het sy met ’n sportbeurs in die VSA gaan studeer en haar van haar tweede jaar af op verspring toegelê. Uiteindelik het sy selfs aan die 1992- Olimpiese Spele in Barcelona deelgeneem.
So was dit ook met Mavis Hutchinson, wat onlangs in die ouderdom van 97 oorlede is.
As kind het sy baie uitdagings en terugslae rakende haar gesondheid beleef. Hoewel sy op hoërskool graag aan atletiek wou deelneem, het sy telkens tou opgegooi omdat sy gevoel het sy kon niks bereik nie.
Sy het jonk getrou, maar was vier jaar later ’n geskeide vrou met twee seuntjies. Sy is later weer getroud met ’n man wat ook twee kinders gehad het, en saam hulle het nog twee dogters gehad.
Op ouderdom 37 (omstreeks 1960) het sy soms saam met haar seuns om die gholfbaan gaan draf en besef dit bied haar goeie afleiding van ’n man, ses kinders en ’n huishouding. Sy het toe begin om eers aan die 6 km- en later 12 km-stapwedlope deel te neem.
Twee jaar later het sy aan haar eerste 80 km-stap deelgeneem en die volgende jaar daardie rekord vir vroue verbeter. Daarna het sy ook aan landloop deelgeneem. Dieselfde jaar (1963) was sy die enigste vrou wat aan die Johannesburg-marathon deelgeneem het en het dit in 3 uur 50 minute voltooi. Ja, vroue was daardie jare nog nie regtig welkom in sulke lang wedlope nie.
In 1965 het sy haar eerste Comrades-marathon, ook as die enigste vroulike deelnemer, voltooi. Tog wou sy groter uitdagings hê.
In 1971 het sy aan ’n 24-uur-wedloop in Johannesburg deelgeneem. Sy was weer die enigste vrou saam met 51 mans, van wie net 20 die wedloop voltooi het. Gedurende dié wedloop het sy die rekords vir 40 km en 80 km verbeter en altesaam 171 km in 24 uur afgelê.
In 1973 het sy die 600 km tussen Johannesburg en Durban in 6 dae 13 uur en 55 minute kafgedraf. Die volgende jaar het sy dieselfde wedloop opdraand van Durban na Johannesburg gehardloop.
In 1977 het sy in ’n rekordtyd van Johannesburg na Kaapstad gehardloop teen gemiddeld 77 km per dag. Op 54-jarige ouderdom het sy in 1978 nagenoeg 4 700 km reg oor die VSA van Los Angeles na New York gehardloop. Sy het 25 paar hardloopskoene saamgeneem en dit ook in ’n rekordtyd afgelê deur gemiddeld 72 km per dag te voltooi.
Op 55 jaar het sy die lengte van Brittanje gehardloop – van John O’Groats tot by Land’s End – en die vorige rekord met nege uur verbeter. Die BBC het haar as “the toughest grandmother in the world” beskryf.
Daarna het sy voortgegaan en steeds aan meestersatletiek deelgeneem en op 86 jaar nog twee uur per dag geoefen. Op skool is gevoel sy is nie goed genoeg nie en sy het eers op 37 aan sport begin deelneem en só presteer. Mavis Hutchinson, ek salueer jou.
Wat is jou verborge talent, daardie “iets” wat jy dalk nog altyd gedink of gevoel het jy graag sal wil doen? Miskien is dit nou die tyd.. David Malherbe is ’n vryskutskrywer van Langebaan.





