Dagga ter waarde van sowat R10 000 is verlede week deur lede van die K9-eenheid gevind.
Minister Reagen Allen, minister van gemeenskapsveiligheid en polisie-toesig, het verlede week onder meer in Swartland besoek afgelê. Hy was by ’n optrede van die plaaslike K9-eenheid waar voertuie in Malmesbury deursoek is. Hier het die snuffelhonde Loftus en Nina saam met hul hanteerders Woensdag (23 Junie) op die dagga op die Klipheuwelpad afgekom. Die deursoeking was ’n gesamentlike optrede van polisiebeamptes, wetstoepassers en die K9-eenheid.
Volgens Allen was twee taxi’s op pad na die padblokkade toe hulle ’n U-draai maak om die beamptes te vermy. Die beamptes is toe agterna met die vermoede iets is nie pluis nie.
Die voertuie is voorgekeer en uiteindelik by die versperring deursoek. Die verdagtes is weens die dagga in hegtenis geneem.
Talle ander boetes is op die dag uitgereik en vier ongelisensieerde bestuurders is beboet. Nog drie mense is beboet omdat hulle nie die nodige permitte gehad het om pendelaars te vervoer nie en nog een was sonder ’n bedryfslisensie op die pad.
’n Addisionele boete is uitgereik vir die bestuur van ’n voertuig met die verkeerde bestuurslisensiekode vir dié voertuig.
Allen meen die suksesse op die dag was presies die rede vir die K9-eenheid se werk in die streek.
“Ek sien daarna uit om nog meer suksesse van hierdie aard te sien sodat ons hierdie misdadige elemente uit ons gemeenskappe kan verwyder en inwoners van ’n veiliger omgewing kan verseker sodat hulle op ’n waardige manier kan leef,” verduidelik die minister.
Hy het Swartland se burgemeester, Harold Cleophas, sowel as lede van die munisipale raad asook al die wetstoepassers vir hul werk bedank:
“Hierdie is ’n groot oorwinning vir die gebied, aangesien dit verseker dat minder dwelms gemeenskappe binnedring. Ek vertrou dat die verdagtes die volle mag van die reg in die gesig sal staar.”




