Kykiehoorie, dis nou maar ’n feit soos ’n koei – as land het ons baie uitdagings en probleme, maar die woord vervelig is gewis nie deel van ons woordeskat nie. Nee wat, ons politieke landskap verseker dat ons op ’n daaglikse basis getrakteer word met die beste stories en skandale soos jy dit net hier aan die suidpunt van Afrika kan beleef. Wie onthou nog die knaap wat in die hartjie van ’n dodelike pandemie die gaping gesien het om sommer ’n klompie miljoene in sy sak te steek? Of dit jou tot raserny of histeriese lagbuie dryf . . . ons demokrasie is lewend en vol aksie.
En net voor jy dink die een aarde-sluk-my-in-drama is verby, dan volg nog ’n verstommende kraakvars episode. Dink maar aan nog so ’n paar. Glo my, jy sal nie lank hoef te dink nie. Met die lang lys moontlike vervolgings wat moes, kon, dalk of hopelik sal plaasvind, kan jy ook maar net wonder. Die mooi van ons land en sy mense is dat ons deur al ons uitdagings altyd ’n manier vind om die humor in ’n saak te vind. ’n Mens kan dit goed verstaan, want hoe anders gaan ons al die uitdagings en probleme oorkom? Moenie ’n fout maak nie – ons sal nie vergeet van die kwaad en onreg wat plaasgevind het nie. Ons sal onthou en ons sal druk toepas totdat geregtigheid sal seëvier.
Intussen het ons nodig om mekaar se lagspiere so ’n bietjie te prikkel, want het jy al agtergekom wat ’n absoluut helende effek so ’n bietjie lagterapie vir die siel kan hê? Ek praat nie van daai effentjies in-die-mou-tipe lag nie. Nee, ek praat hier van daai uit-die-maag bulder of kraailag dat die trane loop! In Suid-Afrika het ons oorgenoeg van daai oomblikke waar jy nie anders kan as om daai tipe lag van tyd tot tyd ’n probeerslag te gee nie. Soms speel die spesifieke gebeurtenis en die lagoomblikke nie altyd so lekker saam nie, soos in die geval waar massaplundery in een van ons provinsies plaasgevind het.
Het jy al ooit gesien mense kan yskaste en super-groot vlakskerm-TV-stelle wegdra asof dit doodnormaal is? Wel, hier in Afrika doen ons dit. En om dit dan nog op nasionale televisie uit te saai. Eish, dit lyk net geheel en al vreemd en snaaks daarby. En julle weet mos hoe kan ons mense die gepaste “meme” by so ’n prentjie voeg. Jy kan bloot net nie anders as om te lag nie. Of die ander dag toe ’n biertrok omgeval het, en dit nogal op ’n Vrydagnamiddag. Ek dink dit was naby Robertson of iewers. Dit was asof daardie dorp gesamentlik die lotto gewen het. Die arme trokdrywer kon maar net staan en toekyk hoe sy kosbare vrag die gemeenskap in verdwyn. Hy’t seker ook elkeen van die grypers ’n erge kopseer toegewens.
So ’n paar jaar gelede staan ek by ’n garage in Malmesbury. Ek wag my beurt af vir die petroljoggie om my van diens te wees. Die volgende oomblik kom stop ’n trokkie met ’n sleepwa daar. Die sleepwa het groter as die trokkie gelyk. Dis egter die vrag wat op die sleepwa was, wat my aandag getrek het. Daar was bagasie so ver as die menslike oog kon sien. Naas die bagasie – glo dit as jy wil of nie – was daar hoenders . . . hordes hoenders. Die stomme goed was maer en paniekbevange. En daar by daai garage in Malmesbury breek ’n stuk paniek los onder daai klomp brandmaer hoenders. En voor jy kon sê Oos-Kaap, toe breek ’n klomp van daai hoenders uit daai sleepwa los! Kan jy jouself daai prentjie voorstel hoe mensekind daai hoenders agternasit. Daai hoenders het seker gedink “vir my vat jy nie uit die Wes-Kaap na ’n ander provinsie toe nie”!
Gepraat van hoenders. Hoe lyk dit met jou eiers daar by die huis? ’n Gedoente, sê ek jou. Moenie eens deesdae uitsoekerig wees oor hoe groot jy jou eiers wil hê nie. Knip daai “jumbo– eiers”-gedagtes van jou kort. Die goed is skaars. As jy dalk ’n paar klein eiertjies in die hande kan kry – wees tevrede, nanna! En soos jy daai klein eiertjies baie versigtig geniet, bid maar saggies dat die verdomde hoendervoëlgriep gou iets van die verlede sal wees!
En sal so ’n verdomde Engelse knaap dan nie nou die dag hier in die doodsnikoomblikke van ons Rugbywêreldbeker-reis een van ons manne in goud wil kom beskuldig van ’n slegte uitlating nie? Ek meen maar, as jy nie veel weet van ons mooi land, sy mense en sy taal nie, dan moet jy maar lig loop. Jy sal gou van ons lojale Bok-ondersteuners hoor hoe ’n linker, regter of groen kant lyk. Jy sal gou hoor dat jy eerder maar doeriekant toe moet staan, want ons kies net een kant – en dis daai Bok-kant!
Nou ja toe, so tussen al die drama en suurlemoen-oomblikke in ons land, maak seker dat jy altyd gewapen is met oorgenoeg Mzanzi- humor – tot laat toe!





