Daar is net geen einde aan die sprokiesverhaal van die nuwelinge Steenberg’s Cove in die Weskus-afdeling van die Boland-Grootuitdaag-kompetisie nie.

Hulle het sonder verwagting een van die grootste skokgolwe die Boland in gestuur deur die Rhino’s van Piketberg met 25-12 op hul tuisbodem te klop.

Ná ’n goeie terugvegpoging teen Vredenburg vroeër dié maand, en waarin Cove die knie moes buig, kon hulle Saterdag opmaak met ’n oorwinning teen die Rhino’s van Piketberg.

Cove kon die Rhino’s omtrent 10 meter in hul eie kwartgebied vaspen met ’n sterk wind aan hul kant.

Cove het die een aanval ná die ander afgestuur, sonder sukses, en kon in die 12de minuut ná ’n mislukte strafskoppoging vroeër in die wedstryd daarin slaag om die bal met hul tweede strafskop van die wedstryd deur die pale te jaag.

Die span van St. Helenabaai kon die wind in die eerste helfte ver beter gebruik as dié van Rhino’s. In daardie stadium het Piketberg gehoop dat die wedstryd op ’n mespunt gebalanseer sou word om ten minste mededingend te kon wees.

Hierna het die Rhino’s weer goeie rugby vir tye gespeel deur die voorspelers van Cove in te trek om hul agterlyn weg te stuur. Dit het byna tot ’n drie gelei. Nadat die losskakel van Piketberg die bal rigtingloos teen ’n sterk Weskus-wind die lug ingejaag het, kon Cheswin Snyders van St. Helenabaai in die regterkantse hoek oordraf vir ’n verspot maklike drie.

Nadat die telling na 8-0 opgeskuif het, het Cove onmiddellik weer toegeslaan om Aceilo Magerman oor die doellyn te stuur vir sy tweede drie.

Met die telling op 13-0 het dit gelyk asof die Rhino-spelers in sak en as was.

Dit was so erg in die eerste helfte dat die toeskouers die rugby van Rhino’s met ’n renosterstropery wou vergelyk. Nog was dit het einde niet.

Cove het hierna weer agter die Rhino-doellyn gekuier deur ’n tweede drie deur Cheswin Snyders om Piketberg heeltemal buite die prentjie te laat.

Die ou siekte van ’n Piketberg-span om met meer as 20 punte in die eerste helfte agter te loop, het weer eens kop uitgesteek.

“Catch-up”-rugby was weer eens die voorland van Piketberg in die tweede helfte. By tye kon hulle goed rugby speel, maar afronding was eintlik hul teenstander teen die einde van die dag.

Sashin Dirks, een van Rhino’s se uithaler-skrumskakels, het die opponente minute later deur ’n fop-aangee na links geflous om weer hoop aan sy spanmaats te bring deur onder die pale te gaan druk.

Die geelkaart van Cove, wat herinner aan die geel truie van gifappeltjies in ’n Liewe Heksie-verhaal, het die voorste drie-drukker van Rhino’s, Christophai Booise, in staat gestel om ’n skoppie deur te stuur om Cheslinne Monk met die grootste gemak in die doelgebied op die bal te val om die telling op 20-12 in die guns van Steenberg’s Cove te staan te laat kom.

Wat hierna gebeur het, sou elke rugbykenner grys hare gee. Sonder dat enige fluitjie geblaas het om die spel tot stilstand te roep, het albei spanne in ’n diepe slaap verval.

Cheswin Snyders – myns insiens die speler van die wedstryd vir Cove – het hierna ontwaak en met die besef dat die spel nog aan die gang was, oorgeduik vir sy derde drie.

Wat Piketberg se rugby betref, is die enigste pad vorentoe ongelukkig terug na die tekenbord om toe te sien dat wat gered kan word, nog gered word.

Hulle moet teen die einde van die kompetisie kan sê soos deur Paulus, “I have fought the good fight, I have run the race, and I have kept the faith.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article