Vredenburg (met bal op die grond) moes Saterdag op sy tuisveld vir 80 minute teen die nuweling Steenberg Cove speel om hul oorwinning te verseker.Foto: Alida Buckle


Steenberg Cove het Saterdag sy buiging in die Boland-Grootuitdaagbekerreeks gemaak en glad nie teleurgestel nie.

Die span uit die Agterbaai het sedert sy ontstaan byna drie seisoene gelede die een sprokiesverhaal ná die ander ervaar en bevind hom ná slegs twee seisoene se klubrugby in grootmensgeselskap. Vredenburg het die wedstryd wel 24-14 gewen, maar moes vir 80 minute hard werk om die oorwinning te verseker.

Vredenburg se “Burg Boys”, wat in hul voorseisoen met die voormalige Boland-kampioen Saldanha afgereken het, is deur die besoekers tot die uiterste beproef. Steenberg Cove het egter met sy karakter en veggees gewys hy hoort gewis in die liga en sy teenstanders moet glad nie dink hulle hoef net op te daag om te wen nie. Dié twee spanne, wat met jong spelers pronk, kan die seisoen nog baie spanne se planne deurmekaarkrap.

Vredenburg het nou die tweede plek op die punteleer ingeneem. Mamre, die verdedigende streekkampioen, het ook sy seisoen op ’n wen-noot begin toe die groentruie in ’n wegwedstryd Paternoster geklop het. Dié span van Kenny Stadler pak Saterdag Saldanha in Mamre, wat as maatstaf vir die eerste ronde kan dien.

Die blou tsoenami het ook sy seisoen met ’n oortuigende oorwinning begin toe die span Piketberg 52-17 afgeransel het.

St. Helenabaai, wat sy seisoen eerskomende Saterdag begin, sal die span van die grafkelder onthaal. Ruben Abels se troepe het Langebaan Saterdag op die grafkelder met 19-14 begrawe. . Ander uitslae is:

Weskus

Saldanha 52-17 Piketberg, Vredenburg 24-14 Steenberg Cove, Paternoster 10-14 Mamre, Velddrif 22-19 Hopefield en Young Hearts 19-14 Langebaan.

Swartland

Darling 33-15 Young Eagles, Wesbank 52-14 Riebeeck United, Abbotsdale 27-21 Saron, Villagers Wittewater 13-10 Never Despairs, en Moorreesburg 8-15 Goodhopes.

Die naweek se wedstrydbepalings is as volg: Piketberg vs. Vredenburg, Mamre vs. Saldanha, Hopefield vs. Paternoster, Langebaan vs. Velddrif en St Helena vs. Young Hearts, terwyl Steenberg Cove ’n ruskans geniet.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article