Cool Kids is ’n plek van veiligheid vir kinders in Lambertsbaai.


Vir Tanya Krigler is Cool Kids ’n hartsaak.

Krigler (52) het Cool Kids, ’n plek van veiligheid, aan die Weskus begin nadat sy jare terug die eerste kindjie, wat sy in die reën gevind het, opgetel en gehelp het.

“Jy kan nie die werk doen vir geld of erkenning nie. Dit werk nie só nie. Dit is ’n daaglikse uitdaging om vir kinders met spesiale behoeftes te sorg,” verduidelik Krigler.

Krigler help kinders in nood al 36 jaar.

Sy verduidelik kinders in nood is ’n groot probleem in Lambertsbaai en die omliggende gebied, met veral gestremde kinders wat aan die kortste ent trek.

Krigler sê in sommige gevalle word die kinders deur hul ouers en familie verwerp, en beland dan op haar stoep.

“Babas wat tydelike sorg nodig het – tussen 90 en 120 dae – word by my geplaas terwyl die departement van maatskaplike dienste langtermynplanne vir hulle maak. Vroeggebore babas word gereeld in my sorg geplaas,” sê sy.

Krigler het oor die jare ’n baba gehelp wat aan ’n boom vasgemaak en verlaat is, ’n ander kindjie wat in ’n hondekos-sak toegerol was en babas wie se families nie kans gesien het om hulle met hul gestremdhede te hanteer nie.

Hoewel Krigler nie ’n mediese agtergrond het nie, het sy oor die jare talle vaardighede aangeleer aangesien sy vir twee kleintjies met erge gestremdhede sorg.

“Ek leer saam met die kinders. Ons het ’n gebrek aan plaaslike gespesialiseerde sorg, wat my genoodsaak om vinnig te leer.”

Sy het ’n vriendin met ’n trageostomiebuis, wat haar via video-oproep raad gee vir een van die kinders.

Sy en “haar” kinders gaan ook gereeld na die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad vir gespesialiseerde mediese sorg.

Die reis van ’n paar uur is ’n uitmergelende tog vir Krigler, en een van die meisietjies in haar sorg, wat stuipe kry, laat Krigler gereeld langs die pad stilhou.

Sy het tans vier kinders in haar sorg benewens haar biologiese seun, wat gereeld inspring om te help.

Krigler sê ten spyte van al die uitdagings van haar daaglikse lewe sal sy dit vir niks verruil nie, want “om hul glimlagte elke oggend te sien, maak alles die moeite werd”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article