Polisieteenwoordigheid op die toneel van massahisterie by Hoërskool Louwville.Foto: Yaël Malgas


Chaos het vanoggend (3 November) by Hoërskool Louwville uitgebreek ná ’n groep leerders glo ’n okkultiese speletjie gespeel het.

Ouers en leerders van beide Hoërskool Louwville en Hoërskool Weston in Vredenburg het Donderdagoggend buite Hoërskool Louwville saamgedrom weens die massahisterie wat ontketen is. Ooggetuies het hulself tot sosiale media gewend en vertel dat leerders, oorwegend meisies, glo geeste opgeroep het.

Die boodskap wat deur lede van die gemeenskap aan Weslander oorgedra is, is dat meisies kaal rondhardloop, aggressief optree en dreig om ander dood te maak.

Volgens angstige ouers op die toneel was daar sprake dat leerders Charlie-Charlie by die skool gespeel het. Hierdie speletjie is soortgelyk aan glasie-glasie of die ouija-bord waar spelers geeste uitdaag om “ja” of “nee” te antwoord, of instruksies uit te voer.

Die leerders het glo weens die speletjie verward voorgekom en begin rondhardloop.

Teen vroegmiddag was Maclonstraat in Louwville deur verkeersbeamptes en polisie afgesper. Die polisie was steeds op die toneel toe lede van die gemeenskap oor verskeie leerders gebid het. Grootmense en kinders het hardop gebid vir die leerders wat glo deur die geeste geteister is. Een leerder het na ’n rukkie opgestaan en het met die hulp van maats huistoe gekeer.

Matrikulante wat Donderdag hul nasionale eksamens geskryf het is deur ’n agterhek huis toegestuur ná hul eksamen.

Ouers op die toneel het hul kinders gemaan om weg te staan en was oortuig die demoniese geeste sou oor die pad na Hoërskool Weston toe kom.

Die skoolhoof Emile Petrus het aan Weslander gesê hy kan nie vir ouers sê om hul kinders by die huis te hou nie.

“Dit is elke ouer se eie besluit,” het hy verduidelik.

Volgens Petrus het verteenwoordigers van die onderwysdepartement ná die voorval die skool besoek om met die leerders te gesels oor wat gebeur het en hulle te ondersteun.

By navraag oor die beweerde okkultiese speletjie waarby die kinders betrokke geraak het, het Petrus gesê: “Ons het vandag ’n geestelike ontwaking by ons skool beleef en dit het leerders geraak.”

Hy het gesê die skool het ’n gebeurlikheidsplan in plek gestel en ouers verseker alle eksamens sal môre (Vrydag) voortgaan. Graad 12-leerders moet 08:00 by die skool wees.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik word alle inligting oor die voorval, ook oor die moontlike betrokkenheid van dwelms, ondersoek.

’n Foto van twee sakkies dwelms, wat soos lekkers lyk, is op sosiale media gedeel en ’n gerug het gou soos ’n veldbrand versprei dat die meisies se vreemde optrede weens die inname van dwelmmiddels is.

Helfrich sê egter die dwelms en die chaos by die skool is baie moontlik twee onverwante voorvalle, maar niks kan egter bevestig word voor nadere ondersoek nie ingestel is nie.

louwville

‘n Foto van die twee sakkies dwelms, wat soos lekkers lyk, is op sosiale media gedeel en ’n gerug het gou versprei dat die meisies se vreemde optrede weens die inname van dwelmmiddels is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article