Die plaaslike sangeres en radio-omroeper, Cecily Immelman, beter bekend aan haar verhoognaam Cecily, is onlangs vir ’n Afri-Indie toekenning genomineer.

Die toekennings­geleentheid het Dinsdag 4 April by die Colosseum Reale in Gauteng plaasgevind. Dit was ’n aand van glans, met van die grootste sterre in die musiek- en vermaakbedryf teenwoordig.

Die Vredenburg-inwoner is genomineer vir haar lied My hemel lê by jou en sy sê sy was verbaas, maar tog ook bly omdat dié lied een van haar bestes is wat sy nog vrygestel het. “Ek glo ek verdien dit ná al die jare se harde werk.”

Cecily het die lied geskryf ná haar verjaarsdag op 9 Junie 2022. Voor sy die woorde vir die liedjie neergepen het, het sy reeds geweet wat die naam sou wees. Sy verduidelik dat sy in die middel van die nag met die naam wakker geword en geskryf het oor wat sy sou voel vir die spesiale persoon in haar lewe.

“Warren Elliot het my gehelp met die toonset­ting nadat ek vir hom gesê het watter soort gevoel ek met die lied wou skep. Dis nie ’n sokkielied nie en ek het van dag een af geweet die lied gaan soveel krag en emosie dra. Christiaan van Zyl van Reborn Studios het die lied opgeneem. Saam was dit ’n fantastiese span,” sê sy.

Cecily het nie met die toekenning weggestap nie, maar sê sy was glad nie teleurgesteld nie. “Ek glo dat jy nie ’n toekenning nodig het om te bewys wat in jou as kunstenaar steek nie. Dit sou vir seker lekker gewees het en ’n bonus, maar glad nie ’n moet nie.”

Wat lê in die toekoms vir Cecily? Sy beplan nog ’n musiekvrystelling later in die jaar en bedank almal wat haar ondersteun.

My hemel lê by jou is op alle stromingsplatforms beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article