Die kreatiewes in die Weskus-gemeenskap wat by vanjaar se jaarlikse Cancervive-kankerbewusmakingsdag vir mans hul stalletjies wil kom opslaan en met hul werk wil spog, sal dit gratis kan doen.
Volgens die kankeroorlewende en motorfietsentoesias Elfrieda Engels van Vredenburg moet almal wat Saterdag 11 November die dag saam met kankeroorlewendes, ondersteuners en weldoeners wil meemaak, net vooraf bespreek.
Veral plaaslike kunstenaars, skilders, kunsvlyt- en handwerk-entoesiaste en mense wat egte Weskuskos verkoop, word gevra om deel te neem.
Die doel is om so veel as moontlik stalletjies daar te hê en dit vir almal moontlik te maak om hul ware op dié dag te kom verkoop.
“Ons wil hierdeur dié jaarlikse gebeurtenis meer fleur gee en terselfdertyd die gemeenskap, wat Cancervive elke jaar getrou ondersteun, ’n platform gee waar hulle hul kuns kan kom ten toon stel.”
Die hoogtepunt van die dag bly egter die mans wat die uitdaging aanvaar om hul hare en baarde ter wille van die projek af te skeer.
Só word bewustheid van kanker onder mans versprei, word mense opgevoed om die tekens vroegtydig op te spoor en word die boodskap van hoop en aanmoediging oorgedra.
Cancervive gebruik landwyd middele soos uitvoerende kunste, musiek, poësie, dans en storievertelling om mense – en in dié geval spesifiek mans – te bereik.
Volgens StatsSA is die kankersoorte wat die meeste onder mans voorkom, prostaat-, kolorektale-, long- en nie-melanoom-velkanker.. Enigiemand wat belangstel om deel van die geleentheid te wees, kan met Engels in verbinding tree by 082 854 3145 of ’n e-pos stuur na elfienc@gmail.com




