Ses stappers durf vanjaar dié Camino-stap van Plettenbergbaai na Kaapstad aan.
Die staptog is 550 km lank en begin Maandag 19 Augustus. Vanjaar word gestap vir drie organisasies sonder winsoogmerk – Die Eilandhuis, Mfesane en Masakhe in die Kaap.
Volgens Abbah Smith is hul doel om dit binne 12 dae te voltooi. Smith sê die staptog is tweedoelig. “Dit is ’n geestelike tog en die doel is om soveel geld as moontlik vir die organisasies in te samel. Laaste maar gewis nie die minste nie, bring ons ook hulde aan die stigterslid van Die Eilandhuis, Jimmy Duncan, wat onlangs oorlede is. Hy was ’n man wat sy lewe gegee het om ander te versorg.”
Verlede jaar se staptog was vir almal sielsverrykend, soos Smith dit stel. “Dit het ons baie nader aan God gebring. Om die blommeprag te aanskou, was ’n absolute wonderwerk. Ek raai almal aan wat die krag het om dit aan te pak. Dit het ook verskriklik gereën en die wind het gewaai, maar benewens dit, was dit die moeite werd,” voeg Smith by.
Vanjaar is dit hul mede-stappers Fabian Smith, ds. Nico Cloete en Vanita Daniels se eerste deelname. Smith, Caesar Sauls en Julie Williams het al vantevore gestap.
Volgens Jonathan Manuel, ’n maatskaplike werker van die vaderskap- program, is dit ’n groot eer om een van die begunstigdes van hierdie geldinsameling te wees. “Dit dra waarde en erkenning oor van ons werk met vaders, jong seuns en manne asook die breë families. Dit motiveer en bemagtig ons om op ’n groter skaal diens te lewer, wat weier strek as net die beperkte regeringsgeld.”
Suster Maxie Potgieter van Die Eilandhuis sê dit is die eerste keer dat hulle begunstigdes van hierdie staptog is en dit beteken vir hulle baie. “Die Camino-staptog gaan baie help om Die Eilandhuis aan die publiek te bemark. Dit is ook verblydend om te sien dat daar nog mense is wat regtig omgee. Die Eilandhuis is baie afhanklik van skenkings om in die basiese behoeftes te voorsien en om te verseker dat die fasiliteit werk. Die geld van die Camino-staptog sal aangewend word vir noodsaaklike behoeftes, soos byvoorbeeld medisyne, kos, doeke ensovoorts.”
Ondernemings en individue word aangemoedig om die staptog te ondersteun teen R1 per kilometer wat gestap word of selfs R50 vir 50 km. Alle bydraes sal help. Vir meer inligting bel Smith by 083 996 0770.





