Wakker polisiebeamptes het verlede week ’n verdagte voertuig by ’n padblokkade voorgekeer en op ’n groot hoeveelheid kokaïen afgekom.
Die padblokkade is in Diazweg, Saldanha, gehou, het kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder, gesê.
Vyf mans is Woensdag 17 Januarie om 03:30 in hegtenis geneem weens die 880 pakkies kokaïen van 0,17 g elk, 40 pakkies kokaïen van 0,4 g elk en ’n groot bedrag geld – bykans R20 000 – wat hulle by hulle gehad het.
Die straatwaarde van die kokaïen beloop R99 360.
Die verdagtes, tussen 23 en 34 jaar oud, was in ’n blou Hyundai i20 onderweg.
Hulle het reeds verlede Donderdag (18 Januarie) in die Vredenburg-landdroshof op aanklag van handel in dwelms verskyn.
Die saak is tot 15 April uitgestel.
Nóg 25 klein sakkies kokaïen is by die 30-jarige verdagte gekry. Hy het op ’n afsonderlike aanklag van die besit van dwelms in die hof verskyn.





