“Nog ’n vrou vermoor.” Dit is die opskrif vir een van die prikkels op hierdie uitgawe se voorblad – nie om onsensitief te wees of dit as minder belangrik af te maak nie, maar juis om uit te beeld hoe algemeen hierdie verskynsel geword het. Die werklikheid is dat hierdie syfers aanhou styg.

Vir mense wat haar nie geken het nie, is Vernique van Rooyen dalk net nog ’n gesig, en wanneer jy oor die omstandighede lees wat na bewering tot haar dood gelei het, sal jy dalk ’n klip of twee wil gooi. Die waarheid is dat ons bitter min weet oor die omstandighede wat tot op daardie noodlottige oomblik afgespeel het, behalwe vir dit wat die polisieverslag onthul. Nie net met verwysing na die minute voor haar dood nie, maar ook die aard van die verhouding in geheel. Ondanks die omstandighede het moord op ’n lewensmaat net ’n té algemene verskynsel geword, en wat hierdie een nog meer hartseer maak, is dat dit in Vrouemaand plaasgevind het wanneer die regte van vroue juis gevier word. Maar wanneer jou eie lewensmaat van so ’n grudaad beskuldig word, laat dit ’n bitter smaak. By wie moet jy dan veilig voel? Wie moet jou beskerm? Vir wie kan jy vertrou as jy nie eens iemand wat sy liefde vir jou verklaar, kan vertrou om jou met alles in hom te beskerm nie? Mishandeling is ook nie altyd fisiek nie. Wees dus bedag oor wat iemand in die naam van liefde doen of sê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article