AfriForum se buurtwagte in die Boland en aan die Weskus het die afgelope naweek aan ’n nasionale patrollie deelgeneem.
Verskeie private sekerheidsmaatskappye, 287 lede van AfriForum en 143 lede van die polisie het aan die patrollie deelgeneem. Hulle het sowat 176 voertuie gebruik, ongeveer 7 304 km afgelê en 19 insidente hanteer.
Omdat die Wes-Kaap die afgelope tyd deur ’n misdaadvlaag getref word en veral die getal plaasaanvalle kommerwekkend hoog is, is besluit om sigbaarheid met dié patrollie te verhoog.
AfriForum se buurt- en plaaswagte, veral die splinternuwe strukture in Gordonsbaai, Paarl en Hopefield, het hulle goed van hul taak gekwyt. Die opskerping van patrollies en bemanning van observasieposte help nie net met misdaadvoorkoming nie, maar ook met die insameling van inligting. Verskeie inhegtenisnemings is in samewerking met die plaaslike polisie gemaak en verkeersboetes van meer as R20 000 is uitgereik.
“Die statistieke toon duidelik hoe misdaad toeneem, daarom is ons dankbaar vir dié inisiatief wat arrestasies moontlik maak en help om misdaad te voorkom. Oor die algemeen is daar ’n goeie samewerkingsverhouding tussen die polisie en ons buurtwagte en daarom word suksesse behaal. Ons wil graag ander polisiestasies en hul lede aanmoedig om ook betrokke te raak,” sê Johan Crous, distrikskoördineerder vir die Weskus.
Die gemeenskap word aangemoedig om by hul naaste AfriForum-tak of -buurtwag betrokke te raak.
Skakel gerus vir Crous by 081 217 0150.





