Die Esperia-buurtwag se bestuurspan is Karyke Smit (addisionele lid)

Misdaad is lank nie meer net die polisie se probleem nie en dus het inwoners van Vredenburg besluit om iets aan die saak in hul buurt te doen.

Die lede van die Esperia-buurtwag het op 1 Maart hul buurtwag op die been gebring met Freddie Smook en Cornie du Plessis wat baie vinnig, verskeie ywerige inwoners aan boord gekry het.

Die groep sê hul hoofdoel is om die buurt veilig en skoon te hou, vandaar hul leuse: “Om jou buurt veiliger en skoner te maak”.Vinnig werk, vinnig verander

In minder as vier maande het die bestuurspan van agt lede reeds groot hoogtes bereik. Samewerkingsooreenkomste met verskeie ander buurtwagte, die plaaslike polisie, die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), die gemeenskapspolisiëringsforum en sekerheidsfirmas is reeds daargestel en werk baie goed, sê die span.

Die buurtwag gebruik WhatsApp-groepe om buurtwaglede in te lig en op hoogte te hou van wat alles in hul buurt aangaan. Die groep maak dit ook moontlik vir buurtwaglede om vinnig probleme of noodgevalle te rapporteer vir spoedige en doeltreffende reaksie deur Esperia-buurtwag se patrollielede, ander buurtwagte, die polisie en selfs sekerheidsmaatskappye wat almal ook op die groepe is.Lede keer die gekonkel in die donker

“ ’n Patrolliediens wat elke nag van die week funksioneer en reeds ’n hele aantal verdagte persone suksesvol hanteer het en sodoende inbrake en des moontlik ander misdade verhoed het, is vinnig op die been gebring,” verduidelik Du Plessis.

Die span het ook gevind dagpatrollies “verrig wondere”.

Benewens misdaadvoorkoming maak die buurtwaglede seker dat enige winkeltrollies wat ongemagtig gebruik word, gekonfiskeer word. Dié trollies word aan die betrokke winkels terugbesorg.

Tydens twee massapatrollies wat rondom Vredenburg se laer- en hoërskool gedoen is, in samewerking met polisie en ander buurtwagte, is verdagte persone ook in hul spore gestuit.

“Tydens ’n afgelope beurtkrag-periode het die buurtwag ook ’n soortgelyke operasie georganiseer waar altesaam 45 patrollielede die nag die hele Vredenburg gepatrolleer het. ’n Hele aantal suksesvolle inhegtenisnemings van persone wat die wet oortree het, is ook gemaak, sommiges in samewerking met die polisie,” sê Du Plessis.Langtermynplanne

Vier groot projekte waaraan die buurtwag tans aandag gee, is die SBM-vullisdromplakker-projek waar buurtwaglede ’n plakker by die buurtwag kan bekom en dit dan op hul vullisdrom aangebring word.

’n Tweede projek is om huisnommers saam met die buurtwag se logo teen die straatrandstene voor buurtwaglede se huise aan te bring. “Dit bring mee dat ’n sekere huisadres makliker gevind kan word in tye van nood. ’n Noodnommerkaartjie in die vorm van ’n boekmerk sal ook binnekort aan alle lede uitgereik word.”

Rommel is ook ’n probleem en werk word gemaak om vullis in die buurt op te tel. Buurtwag werp lig op die saak

’n Groter projek is die installering van sterk spreiligte in strategiese donker gebiede in en rondom die buurt.

“Die ligte word deur die buurtwag met hul eie finansies self aangekoop en in samewerking met die Saldanhabaai-munisipaliteit op die betrokke straatlamppale geïnstalleer. ’n Groot sprong gaan veiligheidskameras wees wat in samewerking met die munisipaliteit op strategiese plekke by ingange na Esperia-buurt geïnstalleer gaan word,” verduidelik du Plessis. Die kameras sal dan gemonitor word deur die munisipale beheerkamera.

“Ons moedig persone aan wat nog nie by die buurtwag lede is nie om so spoedig moontlik aan te sluit vir hul en hul huisgesin se eie voordeel. Ander buurtwagte is welkom om by Esperia-buurtwag kers op te steek en gedagtes uit te ruil,” nooi Du Plessis. . Inwoners wat meer wil weet, kan kontak maak met Smook by 079 930 6779 of Du Plessis by 082 871 1016.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article