’n Vredenburg-speler probeer deur Young Hearts se verdediging bars in die twee spanne se stryd Saterdag in Vredenburg. Foto: Will.i.am Photography


Vredenburg se Burg Boys sal baie vinnig moet rigting kry of die span kan dalk een van die agterosse raak in die Boland Grootuitdaag-kompetisie.

Met slegs twee oorwinnings van vyf wedstryde het die span weer Saterdag op sy eie agterplaas teen Young Hearts van Pella vasgeval en is tans agtste op die punteleer.

Wat wel versagtend vir die span is, is die feit dat dit nog vroeg in die seisoen is. Vredenburg, wat die wedstryd moes wen om steeds binne bereik van die vroeë pasaangeërs te bly, het wel die wedstryd goed begin en het ook eerste bloed geruik. Met beide spanne wat die bal wyd versprei het, het die wil en veggees egter by die tuisspan ontbreek.

Die besoekers van Ruben Abels het kalm gebly en die tuisspan tot foute gedwing om rustyd 14-10 voor te wees.

Die tweede helfte was baie meer gelykop met beide spanne wat goed verdedig het. Die besoekers van die grafkelder het egter hul kanse beter benut om ’n 22-26 oorwinning te verseker.

Paternoster het Saterdag sy onoorwonne status behou toe die span in die Agterbaai met 17 elk gelyk met St. Helenabaai gespeel het.

Paternoster onthaal komende Saterdag die verdedigende Boland-kampioen en Saldanha sal beslis op sy beste moet wees indien hulle met ’n oorwinning wil wegstap, want maklik gaan dit nie wees.

Saldanha het Saterdag op sy tuisveld in ’n spannende wedstryd Velddrif met 28-23 geklop. Die verdedigende kampioen is ook die vroeë voorloper op die punteleer met St. Helena wat in sy nek blaas.

Mamre se groen truie wat tans derde op die punteleer is, het ook bloed gesweet op sy tuisveld in sy 31-30 oorwinning oor Langebaan, terwyl Hopefield vyf sakke koring op sy tuisveld teen Koringberg gekry het.

Volledige uitslae

Weskus: Saldanha 28-23 Velddrif, St. Helena 17-17 Paternoster, Vredenburg 22-26 Young Hearts, Hopefield 40-28 Koringberg, Mamre 31-30 Langebaan.

Swartland: Wesbank 19-26 Goodhopes, Darling 37-20 Moorreesburg, Saron 24-25 Abbotsdale, Porterville 46-15 Riebeeck United Villagers, Wittewater 7-73 Never Despairs.

Spelrooster vir die naweek: Paternoster t. Saldanha, Piketberg t. Vredenburg, Young Hearts t. St Helena, Velddrif t. Mamre en Langebaan t. Hopefield.

In die Swartland: Wesbank t. Saron, Abbotsdale t. Darling, Moorreesburg t. Porterville, Good Hopes t. Villagers Wittewater en Riebeeck United t. Never Despairs.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article