Met die eerste ronde van Boland Rugby se Grootuitdaagbeker wat einde se kant toe staan en klubs wat almal ’n blaaskans gehad het, kan die prentjie hierdie naweek verander.
Boland het alle wedstryde van Saterdag 4 Mei uitgestel weens die begrafnis van sy president, Bennie van Rooi, se vrou, Katriana (59). Met Saldanha wat tans op die punteleer die pas aangee, blaas Vredenburg se Burg Boys en St. Helenabaai hard in sy nek.
St. Helenabaai, wat sterk in die binnebaan is, het egter ’n wedstryd minder as die twee spanne bo hom en kan nie bekostig om enige van sy oorblywende eersterondewedstryde te verloor nie.
Hopefield, wat tans vierde op die punteleer is, word ook gejaag deur die Cove en Paternoster, wat elk ’n punt minder het. Mamre se nederlaag teen Langebaan het hom in die laaste plek gelaat, terwyl Velddrif se verrassende oorwinning oor die Burg Boys hom in die voorlaaste plek gelaat het.
Met spanne wat nog drie wedstryde in die eerste ronde oor het, kan die punteleer in die volgende drie weke drasties verander. Young Hearts (7de), Langebaan (8ste) en Piketberg (9de) kan hierdie naweek hul posisies met oorwinnings verstewig.
Saldanha, die voormalige Boland-kampioen, sal die naweek die Burg Boys onthaal en kan sy posisie met ’n oorwinning verstewig, terwyl ’n nederlaag die span na die derde plek kan laat val – indien St. Helenabaai op sy tuisveld ’n bonuspuntoorwinning oor Hopefield behaal.
Steenberg’s Cove moet die naweek oor die berg na Paternoster reis en slegs ’n oorwinning kan dié nuwe span uit die Agterbaai een plek laat opskuif – indien sy buurspan wel Hopefield met die kous oor die kop huis toe kan stuur.
Mamre sal ook die naweek uit die laaste posisie wil uitkom wanneer die groen truie na die grafkelder reis. Velddrif sal ook op sy tuisveld wil bewys dat die oorwinning oor Vredenburg geen gelukskoot was wanneer hy Piketberg onthaal.
Die naweek se wedstryde:
. Weskus: Saldanha t. Vredenburg, Paternoster t. Steenberg’s Cove, Velddrif t. Piketberg, Young Hearts t. Mamre en St. Helena t. Hopefield, terwyl Langebaan nog ’n naweek rus.
. Swartland: Wesbank t. Darling, Abbotsdale t. Young Eagles, Moorreesburg t. Riebeeck United, Villagers Wittewater t. Saron en Porterville t. Goodhopes. Never Despairs sal ook nog ’n week moet wag.





