Twee landbouer-broers van Klawer staar ’n aanklag van poging tot moord en ontvoering in die gesig omdat hulle glo met ’n vermeende aartappeldief agter op ’n bakkie rondgery het.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is die tiener na bewering al voorheen op die plaas Onverwags met gesteelde aartappels gevang.
Die aanklag spruit uit gebeure op Woensdag 4 Oktober toe die twee broers se werkers hulle meegedeel het dat hulle twee tieners op die plaas gewaar het en vermoed het dat hulle wou aartappels steel.
Dieselfde 16-jarige en ’n ander medepligtige is in Mei vanjaar aangekeer omdat hulle een van die broers se bakkie met klippe bestook het nadat hy hulle gevang het toe hulle tamaties wou steel.
Die broer het die saak teen die twee tieners teruggetrek ten spyte daarvan dat die skade aan die bakkie R8 000 beloop het.
Genl.maj. Sizakhele William Dyantyi, die Weskus-distrikskommissaris, het ná die voorval ’n dringende beroep op die publiek gedoen om nie eiereg in sulke situasies te gebruik nie, maar eerder ’n burgerlike inhegtenisneming uit te voer.
Volgens die Strafproseswet 51 van 1977 mag ’n gewone mens ’n inhegtenisneming uitvoer vir bylaag 1-misdrywe, soos die steel van aartappels of tamaties, eerder as om aan die verkeerde kant van die gereg te kom deur eiereg te gebruik.



