Wat in 2016 as ‘n eenvoudige idee om vroue bymekaar te bring om saam te brei begin het, het gegroei tot ‘n projek wat lewens raak en harte warm hou. Die Breigroep sonder grense, gestig deur Tina Hakkesteeg, is vandag ‘n hegte groep van sowat 17 lede wat weekliks hul tyd, talente en liefde insit om ‘n verskil te maak, steek vir steek.
Die groep kom elke Woensdagoggend tussen 10:00 en 12:00 bymekaar. Oor ‘n koppie tee en iets te ete, klap die breinaalde vrolik, maar die doel is ernstig: om gebreide artikels aan mense in nood te skenk en só liggaam én gees warm te hou.
Oor die afgelope tien jaar het die Breigroep sonder grense gemeenskappe oor die Weskus heen ondersteun, met hul handewerk wat selfs tot in Calvinia in die Noord-Kaap mense warm gehou het.
Volgens Hakkesteeg hoor die groep meestal deur kerke van behoeftiges. “Sodra daar ‘n nood is, spring ons aan die brei,” sê sy.
Die reeks artikels wat gebrei word, is indrukwekkend – van kniekomberse, mussies, serpe, handskoene en truie tot gebreide slaapsakke en speelgoed.
Die groep het selfs borsprosteses gebrei vir vroue wat ‘n mastektomie ondergaan het. Onlangs het die breiers ook vir elke visserman by die Laaiplek-hawe ‘n mussie en nekserp gebrei en dit by die jaarlikse hawediens saam met ‘n Christelike boodskap uitgedeel.
“Elke lid betaal maandeliks ledegeld, en ons probeer sover moontlik daardie geld gebruik om wol aan te koop,” verduidelik Hakkesteeg.
“Vir groter projekte koop ons soms ook wol uit ons eie sakke. Dis ‘n goeie saak en ons doen dit uit liefde vir ons naaste.”
Verskeie instansies het reeds by die groep se werk gebaat, onder meer die Huis Van Heerde-kinderhuis in Moorreesburg, die Magdalenie Tehuis vir Ongehude Moeders, Bless-a-Baby in Kaapstad, die Vredenburg Provinsiale Hospitaal, verskeie kleuterskole in Noordhoek, Velddrif, en die Velddrif-hoërskool se eerste rugbyspan en die bejaardes by King’s Cross.
Met die oog op 2026 is die groep vol verwagting. “Ons weet nog nie presies waar ons volgende betrokke gaan raak nie,” sê Hakkesteeg, “maar waar daar ‘n behoefte is aan ‘n gebreide artikel sal ons reg wees met ons wol en naalde.”
• Bel Hakkesteeg by 076 307 6542 om betrokke te raak, donasies te maak of wol te skenk.




