Tannie Corrie Snyman met van haar gebreide truie.


Brei kom soos tweede natuur vir Tannie Corrie Snyman.

Dié 91-jarige van Langebaan het haar groot verjaarsdag op Maandag 24 Junie gevier.

Wat indrukwekkend is van Tannie Corrie is dat sy steeds op hierdie ryp ouderdom ’n passie en liefde vir brei het – en dít vir minderbevoorregte kinders.

Ten spyte van haar ouderdom en ’n bietjie vergeetagtigheid brei sy elke keer ’n ander patroon uit haar kop. “Sy vergeet soms vir wie sy die trui brei, maar sy vergeet nie hoe om te brei nie,” vertel een van haar dogters, Lana Nel.

Volgens Nel kon haar ma nog nooit stilsit en niks doen nie. Sy sit elke aand sedert rondom 1990 en brei.

Voor dit het sy krale en pêrels vir trourokke en aandrokke borduur of net rokke en baadjies gehekel.

“Sy het nog altyd ’n hart vir minderbevoorregtes gehad en het menigmaal teen minimale fooie klere vir vroue ontwerp en gemaak. Dit is maar net wie sy is. Sy het aanvanklik met oorskietwol begin brei en naderhand wol uit haar sak gekoop.

“Sy het daarna begin om truitjies in een van haar kaste bymekaar te maak en ons versoek om dit te gaan uitdeel waar dit nodig sou wees,” vertel Nel.

Besig

Jaarliks is omtrent 60 truie uitgedeel, onder meer by die kinderhuise toe sy nog in Rustenburg gewoon het asook aan Hands Reaching Out Langebaan, Huis Hadassa, Sonskyn Kleuterskool Langebaan en Huis van Heerde in Moorreesburg. “Sy brei nou ’n bietjie stadiger as vroeër, maar ek deel steeds so 40 truie per jaar uit.”

Tannie Corrie vertel dat sy haar lewe lank altyd besig was met naaldwerk en in hierdie stadium van haar lewe is die breiery al wat sy kan doen om haar besig te hou. “Ek kan nie sit en niks doen nie.”

Tannie Corrie het op 23-jarige ouderdom polio opgedoen, wat haar linkerbeen aangetas en veroorsaak het dat sy haar lewe lank met krukke en kieries oor die weg moes kom.

Sy het haarself geleer naaldwerk doen, ontwerpersklasse bygewoon en haar kunstigheid beoefen deur klere te ontwerp en te maak.

Sy het haar vier dogters met net haar naaldwerkgeld deur die skool en universiteite ondersteun.

“Niks het ooit vir haar hande verkeerdgestaan nie. Sy was welbekend in Rustenburg as kleremaakster en ontwerper van matriekafskeid- en trourokke. Haar hande staan vir niks verkeerd nie en sy sal aanhou totdat sy ’n ding regkry. Sy is die maklikste mens om mee saam te leef aangesien sy haar dag deurbring met dankbaarheid aan God en oor niks kla nie.”

Nel voeg by haar ma stel ’n wonderlike voorbeeld aan almal wat haar ken. “Al haar kinders is geweldig trots op haar en die voorbeeld wat sy aan ons gestel het.”

Haar ander dogter, Elsabé Barkhuysen, sê sy is baie bly dat hul ma besig bly. “Ek glo as jy net sit en niks doen nie, word jy oud en gaan eensaam dood. Soveel kinders los hul ouers in ouetehuise en plekke en vergeet hulle. My ma is die beste mens onder die son.”

Tannie Corrie voeg by dit maak haar hart gelukkig om te gee vir ander wat dit nodig het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article