Die Groter Cederberg-brandbeskermings­vereniging (GCBBV) is al die afgelope sewentien jaar besig met ’n uitdagende taak om grondeienaars binne die grense van die Weskus-distriksmunisipaliteit by te staan om te verseker dat geïntegreerde brandbestuur ingestel en suksesvol toegepas word.

Die doel daarvan is om brandrisiko’s op hul eiendomme te beperk om sodoende verliese, wat deur brande aan ekonomiese, maatskaplike en ekologiese bates veroorsaak word, te verhoed.

“Klimaatsverandering moet veel ernstiger opgeneem word en grondeienaars moet besef dit het ’n geweldige uitwerking op brande,” sê die GCBBV in ’n verklaring.

“Die intensiteit en die impak van die 2017-Knysnabrande is ’n bewys van die mag wat brande het. Grondeienaars het ’n wetlike verpligting om aan die vereistes van die Nasionale Veld- en Bosbrandwette te voldoen.”

Volgens die GCBBV is dit deel van hierdie vereistes om brandstroke op eiendomsgrense te maak, voldoende brandbestrydingstoerusting aan te hou, personeel op te lei en van voldoende beskermende oorklere te voorsien.

Die GCBBV sê hy het bewys deur geïntegreerde brandbestuur op jou eiendom toe te pas, kan brande verhoed of skade verminder word. Brandstroke is nie net daar om ’n brand te keer nie, maar dien ook as ’n toegangspad vir brandbestryders tydens ’n brand. Die wydte van brandstroke word volgens die brandstoflading en brandgevaar van die area waar die strook gemaak word, bepaal.

Die wet dui aan brandstroke moet breed genoeg gemaak word om brandverspreiding te beperk.

Risikobestuur word verder vergemaklik deur die GCBBV wat eiendomme in brandbestuurseenhede indeel, ten einde koördinering, implementering en samewerking te verbeter. Bestuurseenhede is gewoonlik gebiede wat oor dieselfde terrein, grondgebruik en/of plantegroei beskik.

’n Brandbestuursplan word vir elke individuele grondeienaar opgestel waarin standaard-riglyne en aanbevelings gedoen word om risiko’s te verminder om sodoende die eiendom teen veldbrande te beskerm.

Die Working On Fire-spanne (WOF) wat deur die GCBBV bestuur word, kan help met die implementering van die aanbevelings om risiko’s te verminder.

“As ’n lid van die GCBBV moet nalatigheid teen jou as lid in ’n hof bewys word, terwyl ’n nie-lid outomaties as nalatig beskou word en sy eie onskuld moet bewys. As grondeienaar is jy regtens verplig om te alle tye brandgereed te wees.

“Lidmaatskap aan die GCBBV sal verseker dat jy aan die vereistes van die Brandwet voldoen, maar dit kan jou ook help om jou risiko’s en bates beter te bestuur en makliker te beveilig.

“Lede word verder deurlopend voorsien van inligting oor brandgevare, wat voorsien dat lede te alle tye brandgereed is en weet wat hulle moet doen indien ’n brand ontstaan.”

Vir nog inligting, skakel 022 931 2083, stuur e-pos na admin@cederbergfpa.co.za of besoek die webtuiste by www.cederbergfpa.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article