Die soektog na Bradley Douw duur steeds voort.
Douw (33), ’n inwoner van Louwville, word sedert Donderdag 14 Desember vermis.
Volgens Frank Galant, Douw se swaer, het die familie nog niks van hom gehoor of gesien nie. “Dit is ongewoon vir hom om vir so ’n lang tydperk weg te bly. Hy kom altyd terug. Die familie is hoopvol dat hy wel huis toe sal terugkeer,” sê Galant.
Mandy van Rooyen, woordvoerder van die familie en Douw se peetma, deel dieselfde sentimente en sê hy keer altyd terug huis toe.
Die nuus van sy verdwyning het soos ’n veldbrand deur die gemeenskap en op sosiale media versprei. Die gemeenskap het saamgekom en besluit om ’n drie dae lange soektog na Douw van stapel te stuur wat tussen Saterdag 6 en Maandag 8 Januarie plaasgevind het.
Volgens van Rooyen is die hele situasie ’n baie emosionele een vir sowel die familie as die gemeenskap. “Gemoedere loop hoog en die omstandighede wat gelei het tot sy verdwyning is nie duidelik nie,” voeg sy by.
Van Rooyen sê dat sy tot dusver tevrede is met hoe die soektog verloop en dat daar vordering is, al is dit hoe klein. Hoewel daar verskeie gerugte gedeel word en ’n paar artikels gevind is tydens die soektog, is daar nog geen bevestiging of dit enige verband met Douw se verdwyning hou nie.
Norman van Wyk, gemeenskapsaktivis en wykskomiteelid, sê die gemeenskap het sowaar saamgestaan en dat die gemeenskap steeds toegewyd bly.
“Die gemeenskap sal aanhou soek na Bradley. Ons sal elke leidraad opvolg al let ons wel dat dit die polisie se mandaat is. Maar ons weet ook dat die polisie onderbeman is, dus het ons dit op onsself geneem om die werk vir hulle ligter te maak. Ons sal geen bewyse versteur nie, ons sal te alle tye die polisie inlig sodat hulle kan oorneem en hul werk doen.”
Sou enigiemand inligting oor Douw hê oor waar hy hom moontlik mag bevind, kontak sers. Joubert by Vredenburg-polisie by 022 703 6464 of Pink Ladies by 072 214 7439.




