Of dit nou snoek, skaaptjops, biefstuk, varkribbetjie, hoendersosaties of ’n oopgevlekte hoender oor die kole is – ’n mens sou dink dat dít die ding is waaroor ’n lekker braai gaan.
Toe nie – dit gaan oor die braaibroodjies wat daarmee saamgaan; die braaivleis is net ’n voorwendsel om ’n braaibroodjie in die hande te kry, is die oorwoë mening van al die Weskussers vir wie Weslander daaroor uitgevra het.
Braaibroodjies is die hart van ’n lekker braai en presies hoe daai braaibroodjie gebraai moet word en wat daarop gesit word, is duidelik ’n teer punt.
In die familie van Cheryl Allen, eienaar van die oudste eiendomsagentskap in die Weskus, is braaibroodjies selfs ’n groter gunsteling as die tjoppies en wors.
Sy verkies witbrood met ’n lagie botter, tamatieskywe, uie en kaas. Sy glo die tamatie en uie moet baie dun gesny word en die kaas moet gerasper wees sodat dit vinnig smelt.
“Ek maak die uieringe los en pak dit baie mooi. Mense vergeet om ook die hoeke van die brood vol te pak, anders is dit droog.” Haar geheim is Mrs Balls-blatjang vir ’n lekker “soet smakie” en knoffelsout, met net nog sout en peper as speserye.
“Ek sit ook nie botter aan die buitekant van die brood nie. Ek weet nie hoekom mense dit doen nie.” Sy is ook nie geneë met ’n braaibroodjie met hompe tamatie en dik uieskywe nie. “Die dik stukke tamatie en uie veroorsaak dat die broodjie reeds aan die buitekant bruin is, maar die kaas het nog nie gesmelt nie.”
Cheryl meen as die broodjie reg voorberei en gebraai word, sal die kaas sulke drade uit die braaibroodjie trek. “Heerlik gesmelt. Crispy. Wonderlik.”
Bertram Vraagom, bekende in rugbykringe, glo weer aan bruinbrood, verkieslik volgraan. Saam met die tamatie, uie en ’n bietjie kaas moet daar knoffel by wees. Dit gaan vir hom veral oor die knoffel.
Burgemeester André Truter stem saam oor die knoffel. Hy sit sommer baie knoffel in sy botter. Vir hom is ’n braai nie ’n braai sonder ’n braaibroodjie nie. “Baie kaas, lekker uie en tamatie. Bruinbrood, verkieslik tuisgebak met botter alkant van die brood.” Maar, hy is bereid om enige brood te eet, solank daar net ’n braaibroodjie by sy braaivleis is.
Blue Ribbon-brood – daaroor onderhandel Petra Mei nie. Dié professionele seremoniemeester se ranglys van belangrikheid lyk só: baie kaas, uie, knoffel, sout en peper, en sampioene.
Baie mense geniet kaas- en konfytbraaibroodjies, maar dit is nie vir Trish Goosen nie.
Dié woordvoerder van ’n liefdadigheidsorganisasie en oud-Weslander-joernalis verkies óf gewone witbrood óf ’n gourmet-broodjie, spesifiek Bekker-plaasprodukte se tuisgebakte brood – “sommer sulke lekker dik snye”. Haar gunsteling-braaibroodjie lyk nie soos ’n tradisionele een nie, want buiten die kaas, uie, tamatie en blatjang moet dit bolognaise-maalvleis in hê.
Alestaire Brown, ’n sakeman van Vredenburg betrokke by die buurtwagte, verkies in teenstelling weer die eg Suid-Afrikaanse braaibroodjie met tamatie, uie, kaas, sout en peper en ’n bietjie blatjangsous, nes Patrick Lakabane van die Saldanha-vryhawe. Patrick hou net van so bietjie chilliesous by.
Jan Braai, wat Braaidag in 2007 begin het, se weergawe van ’n tradisionele braaibroodjie bevat ook net tamatie, uie, kaas, sout en peper en blatjang, en hy skaar hom ook aan die kant van diegene wat die broodjies aan albei kante botter.
Dit dan wat die bestanddele van die braaibroodjies betref.
Presies hoe en waar om hom te braai, het die Vredenburger Edward Kruger, bekend vir sy heerlike braaibroodjies en potbrood, al tot ’n fyn kuns bemeester. Om die braaibroodjies krakerig en bruin aan die buitekant te kry met die kaas gesmelt en die braaivleis nog warm, stel hy die volgende voor:
Plaas die broodjies op ’n rakkie (soos by sy braai) ’n entjie bo die rooster waar die vleis gebraai word.
Indien daar nie ’n rakkie is nie, sit dit in hul eie toeklaprooster bo-op die vleisrooster.
Dit bring mee dat die broodjies warm word, maar nie te naby aan die kole is nie. Om dit so te doen, gee die kaas kans om te smelt en die buitekante van die braaibroodjies om ’n bietjie uit te droog.
Wanneer die vleis gedraai word, haal die rooster met die braaibroodjies af, draai die vleisrooster om en plaas die braaibroodjie-rooster weer daarop.
Die broodjies moet meer gereeld gedraai word.
Wanneer die vleis gaar is, haal die vleisrooster af, plaas die rooster met die braaibroodjies vir ’n paar minute nader aan die kole sodat die buitekante lekker bruin kan braai.
Sodoende is die vleis nog warm teen die tyd dat die braaibroodjies klaar gebraai is.
Haal af en geniet ’n heerlike, krakerige braaibroodjie met kaasdrade wat oor die ken val.




