Die Berodine Boyce-moordsaak sal in Augustus en September vanjaar in die Kaapse hooggeregshof hervat word.
Berodine Boyce (16), ’n tiener van Laingville in St. Helenabaai, is in Julie 2018 vermoor en haar verminkte lyk is dae ná haar verdwyning in ’n vlak graf langs die Laingville-krieketveld ontdek.
Weslander het in 2018 berig dat Boyce se modderbedekte lyk só geswel was dat sy amper onherkenbaar was (“Spesiale eenhede ingeroep om moord te ondersoek”, 19 Julie 2018).
Boyce se T-hemp was oor haar kop getrek en die res van haar klere onder haar in die graf gegooi. Sy is verkrag en aangerand en ’n hou teen die kop het blykbaar haar dood veroorsaak.
’n Deeglike en intensiewe ondersoek van byna ’n jaar lank het in Junie 2019 tot die inhegtenisneming van drie mans gelei. Die saak is toe na die hooggeregshof verwys en die drie beskuldigdes – Sheldon Christians, Elroy Galant en Duran Snyders – het in Februarie 2021 vir ’n voorverhoor in die hooggeregshof in Kaapstad verskyn.
Die hofsaak is drie keer om verskeie redes in 2021 uitgestel.
Volgens Thyrone Williams, ’n raadslid by die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) en woordvoerder namens Boyce se familie, het die saak weer op 7 Maart vanjaar in die hooggeregshof voorgekom. Williams het Dinsdag aan Weslander gesê die saak was vir die hele week van 7 tot 11 Maart op die hofrol geplaas, maar toe die drie beskuldigdes wat in aanhouding is die Maandag by die hof kom, moes hulle hoor daar is nie ’n regter aangestel om met die hofsaak te begin nie.
Die saak is op daardie tydstip onbepaald uitgestel.
Sedertdien het Williams die hoopvolle nuus ontvang dat die saak weer op die hofrol geplaas is en van 29 Augustus tot 15 September vanjaar in die hooggeregshof aangehoor sal word.
Volgens Williams is die rede vir die uitgerekte wagtydperk “om die getuies genoeg tyd te gee om te getuig, asook sodat die beskuldigdes hul kant van die storie kan stel”, het hy gesê.
“Die families van die slagoffer en die beskuldigdes, asook die gemeenskap wil graag hierdie hoofstuk afsluit, maar dis tans buite ons beheer. Ek vra weer dat almal die families steeds in hul gebede hou.”





