Die padbouprojek van die departement van vervoer en openbare werke en die Weskus-distriksmunisipaliteit om die pad tussen Stompneusbaai en Vredenburg te teer, is goed op dreef.
Sekere uitgrawings word met dinamiet gedoen en daarom sal die pad van 1 Augustus tot 9 Desember vir verkeer gesluit wees. Die alternatiewe roete strek met Hoofpad-533 verby die Langville-afrit en met die R399 langs deur Vredenburg.
Tot nou is ongeveer 7,4 km van die pad volledig teen ’n geraamde koste van R130 miljoen geteer. Fase 3 en 4 van die projek is tans onderweg en behels bouwerk aan nog 4,6 km, wat teen Oktober voltooi sal wees.
Die laaste fase is die gedeelte van ongeveer 6 km, wat teen volgende Maart voltooi sal wees.
Heinrich Robertson, woordvoerder van die Weskus-distriksmunisipaliteit, sê die padbouprojek is netjies op skedule.
“Die veiligheid en gerief van die publiek is vir ons belangrik, en daarom sal alle aanwysings en veiligheidstekens tydens die padsluiting oral opgerig wees.”
Die pad word vir die veiligheid van die publiek sowel as die konstruksiewerkers gesluit.
“Ons bedank die publiek vir hul samewerking en geduld tydens die bouery,” het Robertson gesê.
Navrae oor die projek kan gerig word aan info@wcdm.co.za





