Die vooraansig van die huis.Foto’s: Alida Buckle


Ná drie appèlprosesse lyk dit asof daar uiteindelik vordering by die omstrede vingerhoedhuisie gaan plaasvind.

Geleë op die hoek van Kamp- en Manitokastraat, Saldanha, is die vingerhoedhuisie ’n bekende baken in die dorp. Maar deur die jare het die toestand van die huis agteruit begin gaan. ’n Inwoner wat anoniem wil bly, het aan Weslander vertel dat die aansig van die huis ’n seer oog in die gemeenskap is. “Daar is plakkers in die huis en dit is vol riool. Daar is kort-kort ongewenste mense wat daar rondbeweeg. Elke dag word vensterrame en pype uitgekap en die huis word net geplunder,” vertel die inwoner.

Die inwoner deel dat die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) al verskeie kere ingelig is oor wat by die huis aangaan en selfs die polisie is al gevra om te kom, met geen reaksie nie. Volgens Ethne Lawrence, woordvoerder van SBM, kan die munisipaliteit ongelukkig nie ingryp nie aangesien die vingerhoedhuisie private eiendom is.

Louis de Wet, eienaar van die huis, het met Weslander gedeel dat hy al duisende rande bestee het om die huis te beveilig, “maar omdat daar niemand bly nie, is dit nie eens ’n kwessie van ’n dag nie, dan is alles wat opgesit is, afgekap of afgebreek.”

De Wet het die vingerhoedhuisie in 2008 gekoop en die eerste appèlproses het in 2023 plaasgevind.

Volgens De Wet was hy verlede jaar gereed om te begin bou en het reeds toestemming gekry van die Erfeniskomitee om te begin sloop, met ’n appèlperiode in plek. Hy beoog om drie woonstelblokke te bou. De Wet verduidelik ná die derde appèlproses en die tribunaalsitting is vasgestel dat die fasade van die gebou bewaar moet word, maar die res kan gesloop word tot een vertrekdiepte toe.

De Wet het die gewysigde planne om die tribunaal se beslissing te akkommodeer, laat optrek en by die munisipaliteit vir goedkeuring ingedien. “Ek hoop om binne drie weke terugvoering te kry dat my planne uiteindelik goedgekeur is.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article