Daagliks word plasings oor padongelukke – van minder ernstig tot noodlottig – op groepe in sosiale media gedeel. Dit is ’n verskynsel wat ook meer dikwels as nie weekliks sy ruimte in die koerant opeis. Kritiek word dikwels na die media geslinger oor waarom hoegenaamd oor ernstige botsings berig word. Die rede hiervoor is eenvoudig: om deurlopend bewusmaking te skep oor die kommerwekkende sterftesyfer op paaie. Hoewel provinsiale verkeersbeamptes daagliks op veral kernroetes soos die R27 en R45 sigbaar is, kan sekerlik nie verwag word dat hulle manalleen die duisende motoriste wat die paaie daagliks gebruik, se veiligheid kan verseker nie. Hoewel ruimte vir strenger beleide vir seker bestaan om onverskillige motoriste aan die pen te laat ry en ondersoek in te stel om seker te maak die nodige infrastruktuur, padtekens- en merke is reg om padveiligheid te bevorder, begin die verantwoordelikheid by ons as motoriste self.
Ná ontelbare berigte oor noodlottige gevalle op dié berugte roetes, jaag inwoners en spoedvrate steeds hoogs onverskillig op dié steiltes en blinde hoogtes.
Enige bestuurder wat doelbewus op stadige motoriste se agterente jaag, ander teen blinde steiltes verbysteek en bloot oorhaastig is om twee minute vroeër by hul eindbestemming te kom, is almal oor die jare ook skuldig aan die dood van onskuldige mense.




