“Hy het gebreek toe hy gehoor het sy pa is dood.”
Natasha Joubert (33) kyk met deernis na haar dapper elfjarige seun, Dylan, wat verlede Woensdag sy pa, Leon Cordier (33), aan ’n noodlottige botsing in Atlantis afgestaan het.
“Maar hy is nou oukei.”
Ma en seun glimlag vir mekaar.
“Hy is nou die man in die huis,” sê Natasha met haar oë steeds op haar seun.
Dylan steek sy handjie na sy ma toe uit en raak aan haar sy.
“Ek hou nou mamma se hand vas,” sê hy.
Op 2 Februarie het Leon sy gesin in Vredenburg gegroet en soos op enige ander werksdag Atlantis toe gery.
Dit was die laaste keer dat Natasha en Dylan hom gesien het.
Natasha was by haar werk in Vredenburg toe iemand haar bel om die nuus van Leon se dood aan haar oor te dra.
“Leon was in ’n ongeluk,” het die persoon oor die foon aan haar gesê.
Sy het aanvanklik gedink die botsing kan nie té ernstig wees nie, aangesien dit in die dorpsgebied en nie op ’n hoofweg gebeur het nie.
Maar die boodskapper het gou haar hoop verpletter toe hy die nuus oordra dat die botsing in werklikheid Leon se lewe geëis het.
Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder van Atlantis, het die botsing omstreeks 09:45 in Neil Harestraat in die Atlantis-nywerheidsgebied gebeur.
Cordier is op die toneel dood terwyl die bestuurder van die vragmotor ligte beserings opgedoen het. Munro sê die vragmotorbestuurder het vermoedelik beheer verloor toe die voertuig ’n gat in die pad getref en reg van voor teen die bakkie gebots het.
Natasha sê sy en Leon is “high school sweethearts.” Hulle was albei in die Hoërskool Vredenburg en het van graad 10 af begin uitgaan.
“Dit was ’n voorreg om Leon die afgelope 17 jaar in my lewe te hê,” sê Natasha.
“Hy was so goed vir sy gesin en het baie hard gewerk om toe te sien dat ons niks kortkom nie.”
Volgens Natasha was Leon baie avontuurlustig en lief vir die buitelewe. Die gesin het graag naweke saam met vriende by die see gaan uitspan, 4×4-roetes aangedurf of gaan kamp.
’n Roudiens vir Leon vind vandag (Donderdag 10 Februarie) in die NG kerk Akkerdyk in Vredenburg plaas.





