Kaptein Divan Joshua druk vir Saldanha Foto: Bernadette Louw


Die Sanlam-Boland-Top-12-kompetisie van die Boland-rugbyunie het verlede Saterdag, 21 Oktober, in alle erns afgeskop.

Verskeie Top-12-uitspeelwedstryde is in die Boland gespeel.

Die rugbyklubs Robertson Town en Saldanha RVK het mekaar op die Van Zylstraat-sportveld in Robertson gepak.

Dié kragmeting was ’n titaniese stryd waarvan die uitslag tot die einde toe in die weegskaal was.

Robertson, die Breë-Langebergstreekwenner, het vir Saldanha RVK, die verdedigende Grootuitdaagbeker-klubkampioen van die Boland, naelskraaps met 25-24 ore aangesit.

Die Weskussers neem vroeg in die wedstryd die voortou nadat Monray Jacobs (skrumskakel) met twee strafdoele slaag. Die tuisspan slaan egter met ’n pragdrie deur sy buitesenter, Jennewill April, terug. Collin Willemse (losskakel) verdoel en die telling word 7-6 in Robertson se guns.

Sowat tien minute voor rustyd val Robertson die besoekers se doellyn verwoed aan.

Gershwin Africa (skrumskakel) vind ’n gaping in die verdediging en gaan druk. Willemse se doelskop is egter van koers af, maar die telling groei tot 12-6, met Robertson steeds voor.

Minute later kloof Jacquin Jansen, losskakel van Saldanha, die verdediging met ’n pragtige breekslag oop en hardloop ver met die bal. Toe hy platgetrek word, word Robertson by die afbreekpunt gestraf.

Jacobs, wat goed korrel en sy span deurgaans in die wedstryd hou, jaag sy derde strafdoel tussen die pale deur om die telling 12-9 te maak.

Kort voor rustyd druk Regan Swarts, regtervleuel van Robertson, sy span se derde drie ná ’n goeie skrum en puik taktiese spel tussen Willemse en Jovelian de Koker (binnesenter) om die Langebergers met rustyd 17-9 te laat voorloop.

In die tweede helfte veg Saldanha met mening terug. Nogtans verbrou hy twee lynstane in ’n aanvallende posisie voordat Jansen (losskakel) uiteindelik in die linkerhoek vir die besoekers se eerste drie oorgaan.

Hierdie slag mis Jacobs die teiken, maar die telling skuif aan na 17-14.

Minute later tref Jacobs egter weer die kol met ’n suksesvolle strafdoel waarna die spanne gelyk trek met die telling wat 17-17 word.

Kort hierna verloor die tuisspan sy nr. 4-slot, Curtley Timm, vir 10 minute. Timm is met ’n geelkaart gestraf omdat hy ’n teenstander in ’n lynstaan in die lug gespeel het.

Timm het skaars op die strafstoel gaan sit, toe druk die besoekers se kaptein, Divan Joshua (haker), ná ’n skitterende dryfmaalbeweging van ’n lynstaan af. Jacobs klits die doelskop oor en Saldanha neem weer die voortou met die telling 24-17. Die spanning laai op. Die uurglas is besig om leeg te loop en die tuisspan is agter op die telbord.

Toe spel hervat word, ding Robertson met oorgawe in die lug vir die bal mee, waarna ’n losskrum ontstaan. Saldanha oortree by die afbreekpunt en ’n strafskop word aan die tuisspan toegeken.

Jaundré Joseph, heelagter van Robertson, wat die stelskopwerk oorgeneem het nadat Willemse vervang is, se suksesvolle strafdoelpoging verklein sy span se agterstand toe die telling 24-20 word.

Hierna val die tuisspan weer verwoed aan en druk ’n onverdoelde drie waarmee hy met slegs enkele minute speeltyd oor weer die voortou herwin, met die telling 25-24.

Saldanha weier egter om bes te gee en kom met ’n geweldige aanslag vorendag. Voor- en agterspelers skuif die bal tussen hulle rond en laat die tuisspan behoorlik bontstaan in sy eie kwartgebied.

In sy pogings om Saldanha van sy doellyn weg te hou begaan Robertson ’n oortreding en word gestraf.

In plaas van koelkop bly en eerder aanlê pale toe, neem oorywerigheid en oorhaastigheid besit van die besoekers. Saldanha neem ’n vinnige tikskop en storm vir die doellyn.

Ongelukkig vir hom kry die tuisspan sy hande op die bal en skop dit uit.

Met die blaas van die eindfluitjie wen die tuisspan sy eerste Sanlam-Boland-Top-12-kragmeting teen die verdedigende kampioen naelskraaps met 25-24.

. Volledige uitslae: Safcol United 21-15 Wesbank, Darling 39-40 Hawston, Mamre 23-45 Young Hamiltons, Vanrhynsdorp Eagles 22-32 Roses United, en Bella Vista 29-12 Delicious NW.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article