Macaela Samboya druk die Sanlam- Boland Dames se vierde drie teen die Bulls Daisies.Foto: David Rossouw


Die Sanlam- Boland Dames het die Bulls Daisies Saterdag (8 Februarie) in ’n vrouerug­by-premierafdeling­wedstryd van SA Rugby in die Boland-stadion in Wellington gepak.

Die Sanlam Boland Dames, wat ná twee rondes onoorwonne en in die tweede plek was, het die kragmeting in ’n vuurwarm Boland-stadion met 50-22 teen die Bulls Daisies verloor.

Hul buurvrou, DHL Westelike Provinsie, wat ’n week gelede ook ’n loesing van meer as 50 punte teen die Daisies op die lyf geloop het, het die Grens-vroue se onoorwonne status beëindig toe hulle met 29-12 geseëvier het.

Die Daisies is nou die enigste onoorwonne span in die kompetisie. Hulle het ’n stewige vertoning teen die Sanlam- Boland Dames gelewer en vyf briljante drieë in die eerste 30 minute gedruk. Die Sanlam- Boland Dames het egter geen antwoord gehad nie en kon nie die Daisies se beweeglike voorspelers en vlugvoetige agterlyn stop as hulle op loop gegaan het nie.

Sizophila Solontsi het die Daisies se telling in die tweede minuut oopgemaak toe sy vir die eerste drie van die wedstryd oorgeval het. Die vlytige Solontsi het haar tweede drie in die 20ste minuut van die eerste helfte gedruk. Hierna het Faith Tshauke, Libbie Janse van Rensburg en Micke Gunter almal elk ’n drie gedruk.

Die Sanlam- Boland Dames het egter nie gaan lê nie, maar laaste gelag toe hulle hul eerste drie van die wedstryd net voor rustyd behaal het. Hul spelpeil in die laaste 10 minute het verbeter, maar krediet moet aan die voorspelers gegee word.

Ná die hervatting van die tweede helfte het die vroue baie beter vertoon en nog drie drieë is deur Theresa Ruiters, Lulu Tyibilika en Macaela Samboya gedruk. Deur 17 punte in die tweede helfte aan te teken, het hulle die Daisies uitoorlê met drie drieë teen twee.

Hul lynstaanfoute van die eerste helfte is ook uitgestryk en met beter balbesit tot hul beskikking kon hulle die agterlyn wegstuur om drie drieë te druk. Ook het hulle die bal vinnig na hul buite­-agter­spelers versprei, wat tot die drieë gelei het.

Samboya het vanuit die laaste vesting soms die Daisies in die lug laat gryp en aan die raai gehou wanneer sy op die aanval gegaan het om aansluiting by haar agterlyn te vind. ’n Paar ongedwonge foute het die vroue egter gekniehalter.

Die Daisies het hul aanval in die laaste 15 minute verskerp om die laaste twee drieë van die wedstryd te druk. Met ’n derde 50-puntetal het die Daisies gewys dat hulle in die Premier-afdeling moeilik geklop gaan word.

Puntemakers:

Sanlam- Boland Dames 22 (5), Bulls Daisies 50 (36)

Boland – Drieë: Nomawethu Mabenge, Theresa Ruiters, Lulu Tyibilika, Macaela Samboya. Doelskoppe: Lara Schats

Daisies – Drieë: Zintle Mpupha, Faith Tshauke (2), Sizophila Solontsi (2), Libbie Janse van Rensburg, Micke Gunter, Xolelwa Diliza. Doelskoppe: Jakkie Cilliers (5).

Ander Uitslae

DHL Westelike Provinsie 29 (12) t. Grens Dames 12 (0)

Vrystaat Vroue 31 (12) t. Goue Leeus Vroue 26 (21)

Sharks Vroue 40 (19) t. EP Queens 7 (0).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article