Die Wêreldbekerrugby het Vrydag (8 September) met groot opgewondenheid afgeskop en reeds kan ’n mens die kameraderie onder landsburgers opmerk. Sport, maar veral rugby, het nog altyd die manier gehad om ’n nasie te verenig; waar­skynlik omdat almal een doel ondersteun en dit is om te sien dat die Bokke geskiedenis maak en die gesogte Webb Ellis-beker ’n vierde keer huis toe bring. Maar, so maklik soos wat mense met sport saamstaan en hul verskille opsy skuif, kan dieselfde nie vir die res gesê word nie.

Dan kry individuele agendas voorkeur – dikwels weens kortsigtigheid om nie die groter prentjie te sien nie. Een van die grootste redes vir betogings is dikwels dienslewering – gemeen­skappe wat voel daar word nie in hul behoeftes voorsien nie.

Maar, wat is die eerste ding wat in die meeste betogings wat gewelddadig raak, gebeur? Eiendomme en infrastruktuur word beskadig en afgebreek. Onnodige uitgawes moet aangegaan word vir herstelwerk en vat geld weg wat in die lang termyn gebruik kon word vir die doel waar­oor in die eerste plek betoog is.

Dik­wels het ons dieselfde doel voor oë, maar verskillende maniere om daarna te kyk. Eerder as om met mekaar te praat, maak ons gereed vir oorlog. Kom ons dra daardie Bok-gees elke dag saam met ons en werk saam aan die oplossing. Daar is meer as een “regte manier” – ons moet net bereid wees om na mekaar te luister.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article