Boet van der Hoven was enig in sy soort – ‘n uitblinker op skool, ‘n geliefde onderwyser en later ‘n pottebakker, skrywer en kunstenaar bekend vir sy kleurvolle skilderye. Sy lewenspad het in die Klein Karoo begin en weer daar geëindig. Tussenin was daar ‘n volle en komplekse lewe.

In die dokumentêr Boet se goet word die kyker op ‘n reis geneem deur Boet se buite- en binnewêreld. Daar is insae in die stryd van ‘n intense kunstenaarsgees met die lewe en sy omgewing, sy ontvlugting in pottebakkery, sy woorde in digkuns en briewe, sy skilderye van Karoo-landskappe en die mense wat daar woon.

Die dokumentêr is gemaak deur die meesterregisseur Koos Roets, en die bekende digter en radioman Daniel Hugo is die verteller-aanbieder.

“Die inspirasie om Boet se storie te vertel, kom van die ongekunstelde en direkte wyse waarop Boet sy Karoo-onderwerpe met deernis en empatie benader en in woord en beeld kon weergee; hoe hy sonder skroom sy siel in sy woordkuns kon blootlê,” sê Roets.

“Kykers kan uitsien na die ontvouing van ‘n verhaal van ‘n Karoo-kunstenaar se persoonlike stryd en onophoudelike soeke na klaarheid en ankers, die blootlegging van sy siel. Ook die verhaal van sy noue verbintenis en vereenselwiging met die wel en weë van tipiese plattelandse Karoo-mense wat hy so uniek en raak in woord en beeld kon vasvang.”

Van Boet se geliefdes deel hul herinneringe aan hom, en David Kramer vertel watter rol Boet in sy ikoniese rooi velskoene gespeel het. Anton Goosen is ook te hoor met die liedjie “Saterdagaand”, waarvan hy en Boet die lirieke geskryf het.

Kenners en vriende vertel hoe hy deur bekende kunstenaars soos Pranas Domsaitis beïnvloed is, sowel as kontak, inspirasie en vriendskap met die skilder Gregoire Boonzaier en die pottebakker Hyme Rabinowitz.

Deur Roets se lens gee die dokumentêr ook ‘n intieme blik op ‘n eenkant-gemeenskap – vasgevang in die alledaagse sikliese gang van swaarkry, arbeid, kortstondige vreugdes, pyn en verlies, lewe en dood.

• Boet se goet word op Sondag 29 Junie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article