Solidariteit Helpende Hand se Boesemvriendinne-projek het reeds meer as 4 000 gebreide borsprosteses verskaf aan vroue wat ’n bors of borste weens borskanker verloor het.
“Helpende Hand se FroueVonds het die Boesemvriendinne-breiprojek in Mei verlede jaar in samewerking met die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) van stapel gestuur.
“Ons het in 2021 met die hulp van ons ondersteuners altesaam 1 421 wolprosteses ingesamel. Ons is trots om te kan sê ons het vanjaar weens bykomende ondersteuning reeds 2 722 prosteses opgelewer,” sê René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand en projekbestuurder van die FroueVonds.
Die FroueVonds is deel van Helpende Hand en is in 2019 gestig om vroue te bemagtig. Die naam is met opset verkeerd gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg verloop nie.
Borskankermaand word jaarliks in Oktober gehou om die publiek van dié siekte bewus te maak. As deel van borskankerbewusmaking het Helpende Hand onlangs van die gebreide prosteses aan Kansa by dié organisasie se hoofkantoor in Pretoria oorhandig.
Anina Meiring, ’n bestuurder van Kansa en ’n borskankeroorlewende, het ook die geleentheid bygewoon.
Meiring het op 36-jarige ouderdom albei haar borste weens kanker verloor. Sy self gebruik van die gebreide prosteses en help aktief om dit op grondvlak onder pasiënte te versprei. Sy sê: “Dit is reeds erg as ’n vrou hoor sy het kanker. En om dan nog te moet hoor jy moet ’n mastektomie kry, maak alles net veel erger. Borste is deel van ’n vrou se lewe en seksualiteit, en as dit ewe skielik net weg is, is dit geweldig traumaties. Nie almal kan bors-rekonstruksie bekostig nie.
“Silikoonprosteses het hul plek en tyd, maar dit is swaar en warm en ongemaklik,” skerts sy. “Daai gebreide outjies werk wonderlik. As ek pajamas dra, steek ek dit vas met ’n speldjie en kan lekker gemaklik voor my gesin rondloop. Ek swem selfs daarmee. Ek gebruik dit soveel as wat ek kan.”
Meiring sê sy wens die publiek kan die uitdrukking op vroue wat hul borste verloor het se gesigte sien as hulle ’n stel gebreide prosteses ontvang. “Hulle voel hul vroulikheid kom onmiddellik terug. Mense wat verby jou in die straat loop, sien nie eens jy het nie borste nie.
“Ek kan julle waarborg hierdie boesems is lewensveranderend vir ’n vrou. Moenie die waarde daarvan onderskat nie. Namens al die pasiënte wat al gehelp is, sê ek baie dankie aan almal wat op watter manier ook al hiermee help.”
Roux sê Boesemvriendinne is ’n voortdurende projek en sy hoop om volgende jaar in Oktober meer as 4 000 van die “gemaklike en relatief goedkoop” borsprosteses aan Kansa te skenk.
Kansa verskaf dit dan aan vroue wat ’n mastektomie ondergaan het.
“Pakkette bestaande uit ’n brei- of hekelpatroon; die spesiale wol en vulling word teen R60 per pakket gekoop en onder Helpende Hand se vrywilligers versprei.”
Roux moedig mense aan om aan te hou brei of breiers te ondersteun deur van die pakkette te koop. . Besoek www.boesemvriendinne.co.za vir nog inligting.





