’n 71-jarige boervrou van die Vanrhynsdorp-omgewing moes heelnag vasgekeer in die plaashuis se badkamer op hulp wag terwyl haar geliefde 77-jarige man in die slaapkamer doodgebloei het.

Plaasaanvallers het Willem (Klonkies) van der Westhuizen Maandag (18 Desember) omstreeks 21:00 op die plaas Ronderug naby die Orionskraal-roete vir dood agtergelaat nadat hulle hom vermoedelik met ’n mes in die nek gesteek het.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder, het Willem Maandag 18 Desember die middag by die huis aangekom. Hy het direk by die agterdeur by die huis ingegaan en is reguit deur die kombuis om by die slaapkamer uit te kom.

Sy vrou, Christine van der Westhuizen, was in die kombuis besig.

Willem het nog nie die veiligheidshek of agterdeur gesluit nie.

Die volgende oomblik het Christine vyf aanvallers met klapmusse op by die agterdeur sien instorm. Volgens Helfrich was hulle gewapen met ’n koevoet en ’n stuk hout. Van hulle is onmiddellik na die slaapkamer waar hulle geld by Willem geëis het. Helfrich het benadruk dat dit duidelik was dat hulle deeglik bewus was van die reëlings en bedrywighede op die plaas.

Hulle het die huis deursoek en die sleutels gekry van die kluis waarin sowat R13 000 in kontant was.

Die aanvallers het die geld en ook Christine se selfoon gevat.

Die egpaar se hande en voete is met skoenveters vasgebind, en Christine is in die badkamer toegesluit. Die rowers het Willem ook met ’n gordel vasgebind.

Omstreeks 06:20 het die eerste werker by die plaashuis opgedaag. Christine het hom deur die badkamervenster geroep, waarop hy die polisie gebel het.

Die eerste polisielid op die toneel het eers die badkamerdeur oopgedwing en Christine, wat intussen die skoenveters met ’n skeermes afgesny gekry het, bevry.

Daarna het hy die slaapkamerdeur, wat ook gesluit was, oopgedwing. Willem se lyk het op die vloer gelê, met ’n poel bloed om sy kop.

Helfrich het gesê hy is waarskynlik met ’n mes in die nek gesteek.

Christine is vir geringe beserings en skok behandel.

Helfrich het gesê nog heelwat besonderhede is op hierdie tydstip nog nie beskikbaar nie, maar die polisie sal alles in hul vermoë doen om die oortreders vas te trek.

Sy het bevestig lede van die provinsiale misdaadrekordsentrum was Dinsdagmiddag op pad na die misdaadtoneel om dit vir leidrade te fynkam.

Lede van die gemeenskap het hul liefde vir Willem op sosiale media te kenne gegee en uitgevaar oor die moord.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article