Verskeie invloedryke mense en instansies vra die minister van polisie moet die moord op ’n Piketbergse boer prioritiseer.

’n Boer se lyk is Woensdag 3 Augustus deur plaaswerkers op sy plaas in die Piket-Bo-Berg gevind nadat hy vermoedelik in die donker oggendure beroof en vermoor is.

Volgens die polisie is Hendrik Pistorius (53) se lyk op sy afgeleë blomme- en vrugteplaas, New Caledonia, in die Bergrivier-distrik, sowat 30 km van Piketberg af, ontdek.

Vroeë nuusberigte het aangedui Pistorius, wat alleen in die plaashuis gewoon het, se lyk is in ’n drom gevind. Die Piketberg-polisie het egter intussen bevestig die lyk is onder ’n plastiekhouer, wat vir vrugte gebruik word, gevind.

Die provinsiale polisiewoordvoerder kapt. Frederick van Wyk het gesê Pistorius se beserings dui daarop dat hy ’n hou teen die kop weg het.

Die Piketberg-polisie se verslag aan Weslander het verduidelik Pistorius is met ’n stomp voorwerp agter teen die kop en in die gesig geslaan.

Die polisie glo die motief vir die moord was roof, aangesien geld uit Pistorius se lessenaar weg is.

Leidrade en inligting wat opgevolg word, gee die polisie rede om te glo een of twee verdagtes was by die misdaad betrokke.

AO Silke Lourens, ’n woordvoerder van die Piketberg-polisie het, het Donderdag 4 Augustus in ’n verslag wat sy vir Weslander saamgestel het, bevestig Pistorius se selfoon is op die toneel gevind en vir ontleding na Kaapstad gestuur. Sy beursie is nie gevind nie.

Volgens die verslag word steeds op die eenheid vir georganiseerde misdaad in Kaapstad gewag om die dossier oor te neem, andersins sal die misdaad plaaslik ondersoek word.

Sedert die tragiese nuus oor Pistorius se dood verlede Woensdag op sosiale media gebreek het, het verskeie invloedryke individue en instansies die moord veroordeel.

Thoko Didiza, die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het haar sterk uitgespreek teen die “barbaarse daad”. Jannie Stydom, hoof van Agri Wes-Kaap en Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by die nie-winsgewende organisasie Action Society, wat onlangs in die media-kollig was vir sy openbare konfrontasie met die polisieminister, Bheki Cele, het ook hul afgryse uitgespreek.

André Truter, die burgemeester van Saldanhabaai-munisipaliteit, die Bergrivier-munisipaliteit se naburige munisipaliteit, het ook die moord veroordeel aangesien hy self ook ’n aktiewe buurtwaglid in sy dorp is en passievol oor misdaadbekamping is. Hy het gesê “ ’n aanval op ’n boer of werkers is ’n aanval op die land”.

“Omtrent 39% van die poste in ons gebied is in die landbousektor,” het hy gesê en bygevoeg Pistorius, wat ’n girokopter besit het, was ’n lojale lid van die plaaslike vliegklub.

“Ons doen ’n beroep op minister Cele om die moord as ’n prioriteitmisdaad te verklaar.”

Pistorius is deur sy plaaswerkers as ’n “saggeaarde en nederige mens” beskryf.

Volgens sy broer Louis was Pistorius wêreldwyd vir sy blomme – veral sy proteas – bekend.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article