Houtwerk kom natuurlik vir WH Griffiths, bekend as Billy.
Dus het hy die besluit geneem om sy kennis met ander te deel deur ’n boek Houtwerk: ’n Handleiding vir beginners tot meer gevorderde houtwerkers te skryf.
Hierdie Hopefield-inwoner was ’n houtwerkonderwyser vir 35 jaar en het in ’n houtwerk-huis grootgeword.
Synde houtwerk nie meer aangebied word nie, het hy die geleentheid gesien dat daar ’n behoefte in die houtwerkmark is vir diegene wat daarmee vertroud wil raak en meer daarvan wil leer.
Griffiths het ses maande lank aan die boek gewerk en soveel inligting moontlik gedeel waarmee beginners hul kennis kan opbou.
“Ek besef ook dat daar houtwerkers is wat met my sal verskil en dit is ook reg so. Houtwerk is ’n dinamiese en baie wye vakgebied met baie verskillende prosesse en dit maak nie saak hoe gevorderd jy is nie, jy kan elke dag iets nuuts leer,” vertel Griffiths.
Volgens hom is die boek nie net ’n handboek nie, maar ’n gesprek wat met lesers gevoer word.
“Van die onderwerpe sal bekend wees, maar ek vertrou dat nuwe inligting ook tot voordeel sal wees.”
Griffiths sê dat sy vrou en sy volgelinge op sy Facebookblad hom baie ondersteun het.
“Ek hoop die boek sal ’n aanwins wees vir ander en moontlik sal daar ’n opvolg wees, wie weet.”
Die boek sal by sy winkel Passion for Wood in Hopefield beskikbaar wees, sowel as aanlyn op sy Facebookblad, “Hout is koning”.





