Dit was Donderdag (21 Julie) ’n blye dag by die Harbour of Wellness in Saldanha toe die organisasie ’n nuwe gespesialiseerde bussie vir hul gestremde kliënte in ontvangs geneem het. Foto: Yaël Malgas


’n Blye dag vol trane en vreugde was Donderdag (21 Julie) by die Harbour of Wellness gevier danksy die skenking van ’n nuwe bussie.

Die 47 kliënte wat deesdae daagliks na die sentrum kom, het verskeie gestremdhede. Die sentrum se ou bussie was reeds 30 jaar oud en nie meer geskik vir die verskillende fisieke uitdagings van kliënte nie.

Volgens Marlene Don was dit ’n gesukkel om kliënte op en af in die ou bussie te kry. Sy bieg dit was ook nie die veiligste manier van doen nie.

“Dit is daarom met ’n blye hart dat ons die Strategic Fuel Fund Association (SFF) bedank vir hul skenking van ’n nuwe bussie. Ons het gewag en gewag, maar dit was nie die regte tyd nie – nou is dit,” het vertel Don.

Harbour of Wellness het agt jaar gelede, nog onder die vaandel van die APD-sentrum, by SFF aansoek gedoen vir hulp. Danksy ’n e-pos-skrywe en besoek van die SFF-span het ’n plan begin om ’n aangepaste bussie vir die sentrum te skenk.

SFF se oliebergingsinstallasie by Saldanha is die grootste fasiliteit in sy soort ter wêreld.

“Ons het die ou kombi gesien en besef ’n nuwe bussie sal ’n daadwerklike verskil in hul daaglikse bedrywighede maak. Dit was nie maklik om die bussie vir die nodige spesifikasies aan te pas nie, maar dit is hier. Ons hoop hierdie bussie bly so lank soos jul vorige bussie op die pad,” het Dladlakazi Ntloko van SFF verduidelik.

Die nuwe bussie het ’n hyser waarmee kliënte in ’n rolstoel of met fisieke gestremdhede maklik in of uit kan kom. Die ruimte tussen die sitplekke is groter, wat ’n gemakliker rit moontlik maak.

Maxwell Moss, ’n lid van die direksie en wat self in ’n rolstoel is, sê die skenking sal kliënte help om meer aktief in die gemeenskap te wees.

“Die bussie beteken ons kan nou gaan waar ons dalk nie andersins kon nie. Ons is nou meer mobiel. Almal het ’n verantwoordelikheid om ’n bydrae tot die samelewing te lewer, en hoewel van ons in ’n rolstoel is of nie kan sien nie of stadiger dink as ander, het ons almal iets om te bied.”

Die sleutels is aan Frederick Zaager (43) wat sedert 18-jarige by die sentrum is, oorhandig. Volgens Don kon Zaager skaars vir die nuwe bussie wag en het daagliks gevra wanneer die bussie by die sentrum in Saldanha sal opdaag.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article