Ná ’n hoëspoedjaagtog om vermeende rowers naby St. Helenabaai vas te trek, het die polisie daarin geslaag om een van die verdagtes vas te trek.
’n Malawiese burger is laat Donderdagaand 26 Mei in hegtenis geneem nadat inligting ontvang is dat die insittendes van ’n voertuig op die R27 (Weskus-pad) moontlik met ’n huisroof in Maitland verbind kan word.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die plaaslike polisiekluster, het lede van die Weskus se landelike blitspatrollie probeer om die betrokke voertuig naby Patrysberg in die St. Helenabaai-omgewing af te trek, maar die bestuurder het voet in die hoek gesit en weggejaag.
Helfrich sê die blitspatrollie het die voertuig in ’n hoëspoedjaagtog agterna gesit. Die polisiebeamptes het nog hulp ontbied en die verdagte voertuig het uiteindelik by Smartie Town in Stompneusbaai tot stilstand gekom waarna twee mans, een gewapen met ’n vuurwapen, uitgespring en die veld in gevlug het.
Die polisie het op die verdagtes geskiet, maar hulle het weggekom. Dis onduidelik of die voortvlugtendes in die voorval beseer is.
Die bestuurder, ’n Malawiese burger, was steeds in die voertuig. Hy is in hegtenis geneem en die polisie het klapmusse en huisbraak-toerusting in die voertuig gevind.
Die gebied word steeds gemonitor en die soektog na die twee vermeende rowers duur voort.




