Die Blitsbokke vier hul oorwinning in die eindstryd van die Kaapstad Sewes nadat hulle Frankryk uitoorlê het om vir die eerste keer in nege jaar die 7’s-beker op tuisbodem te hou.Foto’s: David Rossouw


Die Springbok Sewesspan dra ná nege jaar weer die Kaapstad Sewes-kroon nadat hy die Olimpiese kampioen, Frankryk, oortuigend by die DHL Kaapstad-stadion met 26-14 geklop en daarmee die spook van nege jaar verjaag het.

Die Springbok Sewes-afrigter, Philip Snyman, kon nie sy vreugde verberg nie toe die Blitsbokke Sondagaand (8 Desember) hul eerste HSBC SVNS Kaapstad-titel sedert 2015 verower het.

Die Blitsbokke het in die eindstryd van die toernooi, wat deur meer as 75 000 toeskouers oor twee dae bygewoon is, oor Frankryk geseëvier.

Snyman, wat lid was van die wen-Blitsbok-span in die eerste Kaapstad-toernooi van 2015, het ’n onvergeetlike aand beleef. Hy het egter al die lof aan sy spelers gegee vir hul uitstaande vertonings oor die naweek.

“Dit is werklik bemoedigend om te sien hoe die spelers hierdie oorwinning geniet,” het Snyman gesê.

“Hulle is die ware kampioene van hierdie naweek en dra hul spel op aan elke spanlid wat nie vanaand by ons op die veld kon aansluit nie. Ons is verheug oor die oorwinning, ’n bewys van die span se geweldige poging, en ek is uiters trots op hul spel.”

Snyman het opgemerk dat die Blitsbokke ná die vorige naweek se toernooi in Dubai twee sleutelareas vir verbetering uitgewys het.

“Ons doel was om verdedigingsdruk te verskerp en omsetbal te benut, om vinnige aflewering aan ons spelmakers op die flanke te verseker,” het hy verduidelik.

“Ons benadering was presies; [ons] het slegs twee drieë op die openingsdag afgestaan en ons het op die tweede dag ’n rat opgeskuif. Aanvanklike traagheid in die halfeindstryd en eindstryd het uitdagings gebied, maar tog het die span merkwaardige veerkragtigheid getoon om die situasie om te keer en oorwinnings te beklink.

“Die spelers het hierdie naweek ons strategieë foutloos uitgevoer en sodoende ons ware potensiaal gedemonstreer. Hulle vertoning was inderdaad indrukwekkend.”

Die hoofafrigter van die Blitsbokke het die span se ywerige pogings oor die afgelope maande beklemtoon, met die Kaapstadse triomf wat gedien het as ’n welverdiende beloning vir ontelbare ure wat deurgebring is om te oefen.

“Hierdie oorwinning word opgedra aan elke Suid-Afrikaner wat aangehou het om ons te ondersteun – ons spog met die wêreld se mees passievolle aanhangers en ons hoop dit is die begin van iets betekenisvol,” het Snyman gesê.

Die Weskus se Shilton van Wyk het met sy verbysterende vaart, spoed en kragspel die wedstryd in die Blitsbokke se guns geswaai toe hy die derde drie druk en die vierde aangevoer het om David Brits oor die doellyn te stuur om die wedstryd bo alle twyfel van die Franse Hane weg te neem. Sy goeie spel in die eindstryd het hom die HSBC Speler van die Wedstryd in die eindstryd besorg. Nog ’n Weskus-klong, Donovan Don, het ook vir ’n drie vir sy span gesorg.

  • Uitslag: . Blitsbokke: Drieë: Donovan Don, Zain Davids, Shilton van Wyk en David Brits. Doelskoppe: Ricardo Duarttee (3). Frankryk: Drieë: Celian Pouzelgues en Varian Pasquet. Doelskoppe: Stephen Parez en Paulin Riva.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article