Reeds as ’n kind het die ernstige Shilton van Wyk (24) vir sy rugbyafrigter-pa gesê hy gaan eendag op die “tiewie” rugby speel.
Dié kranige senterin die nommer-twaalf-trui uit die Saldanha-rugbyklub se stal het sy buiging vir die Blitsbokke by die Doebai-toernooi in 2022 gemaak.
Hy en sy Blitsbok-spanlede het die afgelope naweek brons- medaljes in die manstoernooi vir 7’s-rugby in die Olimpiese Spele in Parys, Frankryk, losgespeel.
Volgens Shilton se trotse ouers, Coby (59) en Blance (54) van Wyk, was Shilton van kleins af rugbymál.
Hy het reeds op laerskool by St. Andrews in White City en op hoërskool by die Weskusskool uitgeblink, en hulle moes bontstaan tussen al die toernooie en Craven-weke waarvoor hy gereeld gekwalifiseer het.
Hier is die gesin veral dankbaar teenoor Sea Harvest, waar Coby al die jare gewerk het, vir hul volgehoue geldelike steun van Shilton se loopbaan.
Een van sy mentors wat vir Blance uitstaan, is juffrou Yvonne Kotze, wat Shilton op laerskool raakgesien en aangeprys het.
Dan is daar ook Pa Coby, wat al vir jare ’n afrigter by die Saldanha-rugbyklub is. “Shilton het ’n natuurlike talent. Dit is nie iets wat jy vir iemand kan leer nie.”
Shilton het sy skoolloopbaan in 2017 voltooi en die volgende jaar vir die Saldanha-rugbyklub as vleuel en heelagter begin speel.
Sy uitsonderlike talent het reeds met die eerste Super Agt-paastoernooi in die Saldanha-stadion na vore gekom en hy is as Speler van die Toernooi aangewys.
Hy het in 2019 by die Boland-rugbyspan aangesluit en in 2020 by die Stellenbosch Akademie vir Sport se rugbyakademie. Hier moes hy behoorlik vasbyt, vertel sy pa, maar hy het uiteindelik die vrugte daarvan gepluk deur in 2021 vir die Blitsbokke gekies te word.
In mediasportberigte word na hom as die Blitsbokke se “sterk driedrukker” verwys en hy het ook by die Olimpiese Spele dié naam gestand gedoen met sy kenmerkende gaps van die bal die oomblik dat die teenstanders hul oë daarvan afhaal. En dan is dit reguit doellyn toe.
Die Van Wyks is opreg trots op al hul jongste seun se prestasies, maar die Olimpiese medalje was die groot een. “Parys was die ultimate eer; ’n nuwe uitdaging. Shilton het nog altyd gesê hy wil eendag Paris toe gaan.”
Blance sal nooit haar seun se oproep vergeet om te sê hy is vir die span gekies nie. “Mamma, ek het die span gehaal,” was sy eenvoudige woorde.
Pa Coby erken ruiterlik dat hy bewoë geword het. “Dis of daar ’n groot stilte oor my gekom het. Ek moes trane stort, want ek was so gelukkig; borrelend van blydskap. Dit is so ’n anderste gevoel wat ek nie kan beskryf nie.”
Coby is ook baie trots daarop dat Shilton verlede jaar deur sy eweknieë as die MyPlayers- 7’s-speler van die Jaar aangewys is. Suid-Afrikaanse rugbyspelers stem om die toppresteerders in verskeie afdelings vir uitnemendheid, toewyding en sportmangees te vereer. “Hy was nie in een of ander spogsportskool nie – net in gewone skole met gewone onderwysers as afrigters, maar hy is van zero to hero.”
Tydens die Olimpiese Spele-wedstryde moes die bure maar vrede maak met die lawaai, want die Van Wyks het bankvas gesit om Shilton luidkeels te ondersteun. Dit het onder meer sy ouer broer, Colan van Wyk (30), en Shilton se twee kinders, Noah (1) en Skyler (4) en sy meisie, Erin-Lee Bester, ingesluit.
Nieteenstaande Shilton se prestasies, gaan dit nie na sy kop toe nie, verseker sy ouers.
“Hy bly ernstig en doelgerig, met sy voete plat op die aarde en sy oë na Bo. Hy staan vas in sy geloof en is nie skaam om op openbare platforms daarna te verwys nie.”
’n Helde-ontvangs word vandag (Donderdag 1 Augustus) vir Shilton gereël met verskeie groot rolspelers wat gaan saamkom om aan hom hulde te bring, voordat sy welverdiende maand lange vakansie begin.





