Hein Wagner, spreker, avonturier en rekordbreker.Foto’s: Alida Buckle


Die verskil tussen ’n blinde persoon en ’n gas wat in stikdonker probeer eet, is dat die een niemand kan sien nie, maar die ander een wéét dat niemand hom kan sien nie . . . dit maak dus nie saak hóé, met tong of vingers, die bakkie kaassous leeg kom nie.

Sowat 120 Weskussers het Saterdag 25 November die geleentheid gehad om vir twee uur in stikdonkerte gehul te word om die leefwêreld van ’n blinde eerstehands te ervaar.

Langebaner Magda van der Linde het spesiaal vir al haar hartsmense dié “Dinner in the Dark” gereël.

Dit is aangebied deur die wêreldbekende avonturier Hein Wagner, ’n blinde man met uitsonderlike “visie”. Hy reël uitsluitlik dié “stikdonkeraandetes” vir korporatiewe funksies.

Gaste is Saterdagaand in die Athene-konferensiesaal by Mykonos tafel vir tafel, met die hand op die persoon voor jou se skouer, na hul sitplekke gelei.

Snaaks hoe mense skielik kort-kort aan mekaar se skouers of arms moet raak om in die donkerte nie heeltemal afgesluit te voel nie.

Hoewel ’n mens kon hoor en ruik, kon jy nie eens ’n hand voor jou sien nie. Die bottels wyn was die eerste ding wat almal raakgevat het, maar om die wyn in die glase te skink was iets anders.

Eers moes jy die glas en die bottel bymekaar kry. Dan moes jy met die regterhand voel waar die bottel se opening is en dat dit wel oor die glas is, voordat jy jou linkerwysvinger in die glas druk. Dié vinger moet meet hoeveel wyn inloop, indien enige.

Die volgende uitdaging is om die “vol” glas wyn vir jou metgesel aan te gee. Jy moet eers haar skouer, arm en dan hand in die donkerte vind, dit op die glas sit sodat sy dit kan vat.

Dan moet jy hoor dat jy uit oorversigtigheid, net een slukkie ingeskink het.

Om te weet wáár jou glas is, is die volgende prioriteit. Of jy hou dit heeltyd vas óf jy skuif dit styf teenaan die pampoen op die tafel, want anders moet jy die glas soek en die kans om dit dan om te stamp is baie goed.

Met die kouevleisvoorgereg het die meeste gaste die eetgerei gou laat vaar en met die hand geëet –’n smaakontploffing net omdat jy nie weet wat jy in jou mond sit, totdat jy dit proe nie.

Die hoofgereg het ander moeilikheid gebring, want om kapokaartappels met die hand te probeer eet, al kan niemand jou sien nie, werk net nie.

Die meeste gaste het eers gevoel waar die hoender, die aartappels, die ertjies en die slaai was. Dan is die bord so mik-mik benader met vingers wat hier en daar maar moet help. Die bakkie kaassous is sommer oor alles omgekeer – slaai met kaassous proe nie te sleg nie.

Tussendeur staan ’n woordvoerder van elke tafel op en deel hul ervaring. Dit maak jou ongetwyfeld nederig om te besef hoe gelukkig jy is om al jou sintuie te kan gebruik, hoe die blinde kelners en kelnerinne almal verstom met hul spoed tussen die tafels deur, hoe professioneel hulle is en dan ook hoe mooi die blinde Ibrahim Claassen sing en kitaar speel. Dit gebeur steeds alles in die donker.

Niemand sê egter iets oor die ongelooflike spoed waarteen ’n mens eet en drink in die donker nie. Seker senuwees, besluit ons.

Wagner het die gaste spitsvondig aan die skater gehou en die donker word later aanvaarbaar. En net soos Wagner vooraf “gewaarsku” het, word die introverte al luider en die ekstroverte nog meer luidkeels.

Almal is dit eens dat dit ’n een-keer-in-’n-leeftyd-ervaring is, wat ’n mens vir altyd met meer respek na enige blinde of gesiggestremde mens sal laat kyk.

Want toe die ligte aangeskakel word, was daar tot van die uitgelese gaste se verleentheid, óf vermaak, groot klompe kos al langs die plek waar hul borde gestaan het. Die kos is in die donker oor die bord se rand gestoot.

Die heerlike kaaskoek vir nagereg is in die skielik heeltemal te skerp lig geëet en iewers, diep binne, het ’n mens gewens dat die vreemde misterieuse ondervinding nog net so bietjie langer kon aanhou.

Grotendeels ook oor Wagner se onbeskryflike inspirerende persoonlikheid.


. Lees meer oor sy ongelooflike lewe by www.heinwagner.com

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article