Die Bergrivier-munisipaliteit se leerlinglisensieklasse in Piketberg, Porterville en Velddrif is onlangs van nuwe elektroniese leerlinglisensie-toerusting voorsien.
Hierdie toerusting is deur die Padverkeer-bestuurskorporasie aangebring en word tans by alle toetssentrums geplaas.
Cavin Cornelissen, hoof van verkeersdienste by die Bergrivier-munisipaliteit, sê die doel van hierdie elektroniese stelsel is om korrupsie te verhoed en dienslewering te bevorder.
“Die stelsel kies self vrae uit ‘n databank van ongeveer 1 500 moontlike vrae,” sê Cornelissen.
Hierdie nuwe tegnologie is regstreeks aan die Nasionale Verkeersinligtingstelsel, Natis, gekoppel. Voornemende kandidate word aangemoedig om gebruik te maak van die studiemateriaal op die Natis-webtuiste by www.natis.gov.za om deeglik vir hul leerlinglisensietoets voor te berei.
Enige navrae kan gerig word aan jou naaste verkeerskantoor.
Hierdie stelsel raak geensins die huidige aansoekprosedure nie.





