Dít is al wat oorgebly het van Tania se motor nadat dit ’n vragmotor getref het.


Volg van bl.1

Ooggetuies wat die botsing gesien gebeur het, het Maandag op Weslander se Facebookblad gesê dit het gelyk of die motor net eenvoudig voor die vragmotor ingedraai het.

“Haar liggaam is onherken­baar vermink weens die geweldige impak,” het Filander aan Weslander gesê.

Volgens Filander was Henry ná die botsing op die toneel en het hy bevestig dat Tania aan bipolêre gemoedsteuring gelei het.

“Dit is ook gesê die vrou (Tania) het boonop gesukkel om oor die dood van haar vorige man te kom,” het Filander gesê.

Volgens ’n berig “Bylmoordenaars” wat op 14 Augustus 2014 in die Gansbaai Courant verskyn het, is Tania se vorige man in 2011 in sy slaap met ’n byl vermoor. Die twee skuldiges is ná ’n uitgerekte hofsaak op 25 September 2014 swaar gevangenisstraf gegee.

Tania het die oggend van die moord die huis met die hond verlaat om te gaan stap, terwyl haar man nog gelê en slaap het. Buite die huis het die skuldiges die huis dop­gehou, binnegegaan toe Tania weg is met die doel om te steel en Jan Otto (Nugget) met ’n byl doodgekap.

Tania is in die laaste paar jaar weer getroud.

Henry het Woensdag aan Weslander gesê dit was ’n voorreg om Tania in sy lewe te kon hê.

“Sy het ’n sagte siel gehad, was baie lief vir diere en kon nie ’n vlieg seermaak nie,” het hy bygevoeg. “ ’n Mens bons nie sommer net terug van erge trauma nie en Tania het baie gesukkel. Ek vat dit nou dag vir dag en probeer die mooi herinneringe aan haar koester.”

Volgens Des Paton, streekdirekteur van die provinsiale departement van verkeer vir die Weskus, was die Weskus-pad vir ure weens die botsing gesluit en moes motoriste terugdraai en alternatiewe roetes gebruik om by hul bestemmings te kom. Paton sê die pad was eers weer 21:00 oop aangesien die botsing die pad beskadig het. Die skade moes eers herstel word aangesien dit ’n risiko vir verdere ernstige botsings sou wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article