’n Motorfietsryer van Vredenburg is ernstig beseer nadat die bestuurder van ’n luukse-motor Sondagoggend 16 Julie na bewering ’n stopteken verontagsaam en voor hom ingery het.
Michiel Vollgraaff (30), ’n lid van die Mac’s-motorfietsklub, het ernstige inwendige beserings opgedoen en sterk tans in die Life Weskus Private Hospitaal aan. Michiel, wat bekendstaan as “Tiny”, het sy eie onderneming in Velddrifweg, Tiny’s Auto Repairs.
Volgens sy vrou, Jeanine (32), was hy Sondagoggend omstreeks 09:45 op pad terug huis toe nadat hy by haar ’n draaitjie gaan maak het. Sy werk in die Weskus Mall by Vino Juweliers.
Michiel is op die oomblik onder sterk verdowing, maar hy het aan Jeanine gesê dat hy in Deurweg gery het toe hy sien dat daar ’n wit BMW van die linkerkant af oor die kruising vanuit Stinkhoutstraat begin oorry. Hy het besef dat die BMW voor hom gaan inry en het spoed verminder, maar hy kon nie die botsing vermy nie. Sy swart Honda CBR1100XX Blackbird het die BMW getref.
Jeanine sê Michiel se milt het weens die impak gebars en sy linkernier afgeskeur. Albei organe moes in ’n noodoperasie verwyder word.
“Michiel het steeds baie pyn. Die dokters het gesê as hy net anders geval het, was hy vandag nie meer met ons nie,” sê Jeanine.
Michiel het ook interne bloeding gehad waarvoor hy Sondag en Maandag bykomende bloed moes kry. “Hy veg elke dag om sy lewe. Gelukkig druk hy deur. Hy maak elke dag sy oë oop en praat so bietjie, dan is hy weer weg.”
Die dokters gaan hom vir die volgende week in die waakeenheid sit en dan dophou hoe hy vorder voordat hulle hom na ’n algemene saal kan oorplaas.
Jeanine het self die pad gaan ry, vanuit die rigting waarin die motor gery het. Sy sê dat indien ’n motoris by daardie kruising stilhou en regs kyk, dit duidelik sal wees dat daar ’n motorfiets of ander voertuig aankom.
Die Vredenburg-polisie ondersoek die saak.



