’n Ontspanne middag saam met mede-motorfietsryers by die Saldanha-vakansieoord het vir Raylin Christians tragies geëindig.
Christians (44), wat ten tyde van sy dood in Plettenbergbaai gewoon het, het Saterdagmiddag glo besluit om ’n kort entjie deur die vakansieoord te ry, maar nagelaat om sy valhelm op te sit.
Oomblikke daarna het hy beheer oor die motorfiets verloor en op sy kop geval. Christians is per ambulans na die hospitaal geneem, waar hy glo minute na sy aankoms, gesterf het.
AO Yolanda Kotze, die woordvoerder van Saldanha-polisie, het aan Weslander gesê Christians het vermoedelik weens hoofbeserings gesterf nadat hy volgens ’n verklaring aan die polisie ’n spoedwal in die vakansieoord getref het. Hy het toe glo van sy motorfiets afgeval en sy kop gestamp.
Christians, wat met die One Up-motorfietsklub van Kaapstad verbind word, het die naweek saam met ander motorfietsryers by Saldanha saamgekom vir die Desert Wolves-motorfietssaamtrek en by die Saldanha-vakansieoord verblyf gekry.
Die noodlottige ongeluk het ná ’n vol oggend van motorfietssaamtrek-aktiwiteite in die dorp plaasgevind toe al die motorfietsryers by die vakansieoord begin ontspan het.
Volgens Tyrone de Wet, die president van die Desert Wolves-motorfietsklub wat die saamtrek aangebied het, is dit tragies dat Christians op só ’n wyse – wat niemand voorsien het nie – gesterf het.
“Wanneer ons ’n groot saamtrek hou, soos die een wat die afgelope naweek in Saldanha plaasgevind het, en motorfietsryers sterf in botsings, gebeur dit gewoonlik op pad na die saamtrek of na afloop van die geleentheid wanneer almal huiswaarts keer. Dit wat met Raylin gebeur het, is nie algemeen nie,” het De Wet Maandag aan Weslander gesê.
“Dit lyk of dit ’n fratsongeluk is. Hy het eenvoudig sy kop op ’n slegte plek gestamp. Hy was stabiel met ’n sterk hartklop toe hy in die ambulans gelaai is en almal het gedink hy gaan oukei wees omdat hy nie vinnig of ver gery het nie. Ons het so rukkie nadat hy by die hospitaal aangekom het, die slegte nuus gekry dat hy dood is.”
De Wet sê die Desert Wolves het as organiseerders van die saamtrek hul plig opgeneem en Sondagaand Christians se familie gaan besoek om hul innige medelye aan sy geliefdes te gaan betoon.
“Sy familie is baie getraumatiseer en het gevra dat hul privaatheid in hierdie moeilike tyd gerespekteer word,” het De Wet bygevoeg.
“Behalwe vir hierdie hartseer en tragiese gebeurtenis, het die saamtrek regtig goed afgeloop. Ons is goed ontvang en sal volgende jaar terug wees.”
Volgens Kotze word ’n saak van strafbare manslag deur die Saldanha-polisie ondersoek.


